1. Vandag gaan ons verder met die een idee wat volkome verlossing bring, die een verklaring wat alle vorms van versoeking magteloos laat; die een gedagte wat die ego stil en heeltemal ongedaan maak. 2Jy is soos God jou geskep het. 3Die geluide van hierdie wêreld word stil, die beelde van hierdie wêreld verdwyn, en al die gedagtes wat hierdie wêreld ooit bevat het, word vir ewig weggevee deur hierdie een idee. 4Hier is verlossing volbring. 5Hier is geestesgesondheid herstel.
2. Ware lig is krag, en krag is sondeloosheid. 2As jy so bly soos God jou geskep het, moet jy sterk wees en moet die lig in jou wees. 3Hy Wat jou sondeloosheid verseker het, moet ook die waarborg vir krag en lig wees. 4Jy is soos God jou geskep het. 5Die duisternis kan nie die glorie van God se Seun verberg nie. 6Jy staan in die lig, sterk in die sondeloosheid waarin jy geskep was, en waarin jy sal bly vir alle ewigheid.
3. Vandag sal ons weereens die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is, bestee om die waarheid in jou te probeer voel. 2Begin hierdie periodes van ondersoek met hierdie woorde:
3Ek is soos God my geskep het.
4Ek is vir ewig Sy Seun.
5Probeer nou om die Seun van God in jou te bereik. 6Dit is die Self wat nooit gesondig het, of nooit ’n beeld gemaak het om die werklikheid te verplaas nie. 7Dit is die Self wat nooit Sy tuiste in God verlaat het om onseker in die wêreld te leef nie. 8Dit is die Self wat geen vrees ken, of wat Hom verlies of lyding of dood kan voorstel nie.
4. Niks word van jou verlang om hierdie doel te bereik nie, behalwe om alle afgode en selfbeelde opsy te sit; om by die lys van eienskappe, beide goed en sleg, wat jy aan jouself toegeskryf het, verby te gaan; en in stille verwagting die waarheid af te wag. 2God Self het belowe dat dit aan almal wat daarom vra, geopenbaar sal word. 3Jy vra nou. 4Jy kan nie faal nie, want Hy kan nie faal nie.
5. As jy nie aan die vereiste oefening elke eerste vyf minute van elke uur kan voldoen nie, herinner jouself dan ten minste elke uur:
2Ek is soos God my geskep het.
3Ek is vir ewig Sy Seun.
4Vertel jouself vandag herhaaldelik dat jy is soos God jou geskep het. 5En vergeet nie om op enigeen wat jou blyk te irriteer, met hierdie woorde te reageer nie:
6Jy is soos God jou geskep het.
7Jy is vir ewig Sy Seun.
8Wend alle moontlike pogings aan om vandag die uurlikse oefeninge te doen. 9Elkeen wat jy doen, sal ’n reuse stap op pad na jou verlossing wees, en ’n mylpaal in die denksisteem wat hierdie kursus uiteensit.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 94: I am as God created me. (ACIM, W-94)



