Etiket: onkwetsbaarheid

Les 62 – Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.

1. Dit is jou vergifnis wat die wêreld van duisternis na die lig sal bring. 2Dit is jou vergifnis wat jou die lig waarin jy sien, laat herken. 3Vergifnis is die demonstrasie dat jy die lig van die wêreld is. 4Deur jou vergifnis onthou jy weer die waarheid oor jouself. 5Daarom lê jou verlossing in jou vergifnis.

2. Illusies oor jouself en die wêreld is een en dieselfde. 2Dit is hoekom alle vergifnis ’n geskenk aan jouself is. 3Jou doel is om uit te vind wie jy is omdat jy jou Identiteit ontken het deur die skepping en sy Skepper aan te val. 4Nou leer jy hoe om die waarheid te onthou. 5Want hierdie aanval moet deur vergifnis vervang word, sodat gedagtes van die lewe gedagtes van die dood kan vervang.

3. Onthou dat jy met elke aanval ’n beroep doen op jou eie swakheid, terwyl jy met elke daad van vergifnis ’n beroep doen op die krag van Christus in jou. 2Begin jy dan nie begryp wat vergifnis vir jou kan beteken nie? 3Dit sal alle gevoel van swakheid, inspanning en vermoeidheid uit jou geestesdenke verwyder. 4Dit sal alle vrees en skuld en pyn verwyder. 5Dit sal jou opnuut bewus maak van die onkwetsbaarheid en krag wat God Sy Seun gegee het.

4. Laat ons bly wees om hierdie dag te begin en te eindig deur vandag se idee toe te pas en dit so dikwels as moontlik die hele dag deur te gebruik. 2Dit sal help om die dag vir jou so gelukkig te maak soos God wil hê jy moet wees. 3En dit sal diegene om jou, asook diegene wat in tyd en ruimte ver weg blyk te wees, help om hierdie geluk met jou te deel.

5. Sluit jou oë vandag, so dikwels as wat jy moontlik kan, en sê vir jouself:

              2Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.

              3Ek sal my funksie vervul, sodat ek gelukkig kan wees.

4Bestee dan ’n minuut of twee om oor jou funksie, en die geluk en bevryding wat dit jou sal bring, te dink. 5Laat verwante gedagtes vrylik opkom, want jou hart sal hierdie woorde herken, en in jou geestesdenke is die besef en bewustheid dat hulle waar is. 6As jou aandag sou afdwaal, herhaal die idee en voeg by:

            7Ek sal dit onthou, want ek wil gelukkig wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 62: Forgiveness is my function as the light of the world. (ACIM, W-62)

Les 26 – My aanvalsgedagtes val my onkwetsbaarheid aan.

1. Dit is ongetwyfeld duidelik dat as jy aangeval kan word, jy nie onkwetsbaar is nie. 2Jy sien aanval as ’n wesenlike bedreiging. 3Dit is omdat jy glo dat jy werklik kan aanval. 4En wat déúr jou gevolge het, moet ook óp jou gevolge hê. 5Hierdie wet sal jou uiteindelik red, maar tans misbruik jy dit. 6Jy moet dus leer hoe om dit in jou beste belang te gebruik, in plaas van daarteen.

2. Omdat jou aanvalsgedagtes geprojekteer word, sal jy aanval vrees. 2En as jy aanval vrees, moet jy glo dat jy nie onkwetsbaar is nie. 3Aanvalsgedagtes maak jou dus kwetsbaar in jou eie geestesdenke, want dit is waar die aanvalsgedagtes is. 4Aanvalsgedagtes en onkwetsbaarheid kan nie tegelyk aanvaar word nie. 5Hulle weerspreek mekaar.

3. Vandag se idee stel die gedagte bekend dat jy jouself altyd eerste aanval. 2As aanvalsgedagtes onvermydelik die oortuiging meebring dat jy kwetsbaar is, dan is die gevolg daarvan dat hulle jou in jou eie oë verswak. 3Dus het hulle jou persepsie van jouself aangeval. 4En omdat jy in hulle glo, kan jy nie meer in jouself glo nie. 5’n Vals beeld van jouself het die plek van wat jy is, ingeneem.

4. Oefening met vandag se idee sal jou help begryp dat kwetsbaarheid of onkwetsbaarheid die resultaat van jou eie gedagtes is. 2Niks anders as jou gedagtes kan jou aanval nie. 3Niks anders as jou gedagtes kan jou laat dink dat jy kwetsbaar is nie. 4En niks anders as jou gedagtes kan aan jou bewys dat dit nie so is nie.

5. Ses oefenperiodes word benodig om vandag se idee toe te pas. 2’n Volle twee minute kan vir elk probeer word, alhoewel die tyd na ’n minuut verminder kan word as daar te veel ongemak is. 3Moenie dit verder verminder nie.

6. Die oefenperiode moet begin deur vandag se idee te herhaal, jou oë dan te sluit en weer te kyk na onopgeloste probleme, waarvan die uitkoms jou bekommer. 2Die bekommernis mag die vorm van depressie, besorgdheid, woede, neerdrukkende gevoelens, vrees, voorgevoelens of beheptheid aanneem. 3Enige probleem wat nog nie opgelos is nie en deur die dag by herhaling in jou gedagtes opduik, is ’n geskikte onderwerp. 4Jy sal nie in een enkele oefenperiode baie kan gebruik nie omdat meer tyd as gewoonlik aan elkeen bestee moet word. 5Vandag se idee moet soos volg toegepas word:

7. Noem eers die situasie by die naam:

              2Ek is bekommerd oor __________.

3Gaan dan deur elke moontlike gevolg wat in dié verband by jou opgekom het en vir jou bekommernis veroorsaak het, en verwys redelik spesifiek na elkeen deur te sê:

              4Ek is bang dat __________ sal gebeur.

8. As jy die oefeninge deeglik doen, sal jy omtrent oor vyf of ses kwellende moontlikhede beskik vir elke situasie wat jy behandel, en moontlik selfs meer. 2Dit is veel nuttiger om ’n paar situasies deeglik te dek as om ’n groot aantal net aan te roer. 3Soos die lys van verwagte uitkomste vir elke situasie groei, sal jy heelwaarskynlik sommige daarvan, veral die wat aan die einde by jou opkom, minder aanvaarbaar vind. 4Probeer egter om hulle almal, sover jy kan, gelyk te behandel.

9. Nadat jy elke uitkoms waarvoor jy bang is, opgenoem het, sê vir jouself:

              2Daardie gedagte is ’n aanval op myself.

3Sluit elke oefenperiode af deur vandag se idee weereens vir jouself te herhaal.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 26: My attack thoughts are attacking my invulnerability. (ACIM, W-26)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs