1. Niemand kan sien wat jou griewe alles wegsteek nie. 2Omdat jou griewe die lig van die wêreld in jou verberg, verkeer almal in die duisternis, en staan jy langs hulle. 3Maar soos die sluier oor jou griewe gelig word, word jy saam met hulle bevry. 4Deel jou verlossing nou met hom wat langs jou gestaan het toe jy in die hel was. 5Hy is jou broer in die lig van die wêreld wat julle beide verlos.
2. Laat ons vandag opnuut ’n opregte poging aanwend om die lig in jou te bereik. 2Voordat ons dit in ons langer oefenperiode onderneem, laat ons ’n paar minute daaraan wy om na te dink oor wat ons probeer doen. 3Ons probeer letterlik om in voeling te kom met die verlossing van die wêreld. 4Ons probeer by die sluier van duisternis verby kyk wat dit verborge hou. 5Ons probeer om die sluier te laat lig, en om die trane van God se Seun in die sonlig te sien verdwyn.
3. Laat ons vandag ons langer oefenperiode begin in die volle besef dat dit so is, en met ware vasberadenheid probeer om dit wat vir ons duideliker as enigiets anders is, te bereik. 2Verlossing is ons enigste behoefte. 3Daar is hier geen ander doel nie, en geen ander funksie om te vervul nie. 4Om verlossing te leer, is ons enigste doel. 5Laat ons vandag die oeroue soektog beëindig deur die lig in ons te vind, en dit omhoog te hou sodat almal wat saam met ons soek dit kan sien, en hulle kan verbly.
4. Probeer nou om baie rustig, met geslote oë, al die inhoude wat gewoonlik jou bewuste beset, te laat gaan. 2Dink aan jou geestesdenke as ’n reusagtige sirkel wat omring word met ’n laag swaar donker wolke. 3Jy kan slegs die wolke sien, want dit kom voor of jy buite en heeltemal weg van die sirkel staan.
5. Van waar jy staan, is daar geen rede om te glo dat daar ’n skitterende lig is wat deur die wolke verberg word nie. 2Die wolke blyk die enigste werklikheid te wees. 3Hulle skyn al te wees wat daar is om te sien. 4Daarom probeer jy nie deur hulle en verby hulle te gaan nie, wat die enigste manier sou wees om werklik oortuig te word van hulle gebrek aan substansie. 5Ons sal vandag hierdie poging aanwend.
6. Probeer, nadat jy nagedink het oor die belangrikheid van wat jy vir jouself en die wêreld probeer doen, om dan in volkome stilte tot rus te kom, en onthou slegs hoe graag jy vandag die lig in jou wil bereik – nou! 2Besluit om by die wolke verby te gaan. 3Strek in jou gedagtes jou hand uit en raak hulle aan. 4Vee hulle met jou hande weg, voel hoe hulle op jou wange en voorkop en ooglede rus soos jy deur hulle gaan. 5Gaan voort; wolke kan jou nie stop nie.
7. As jy die oefeninge korrek doen, sal jy ’n gevoel kry dat jy opgelig en vorentoe gedra word. 2Jou ligte inspanning en jou geringe vasberadenheid doen ’n oproep op die krag van die universum om jou te help, en God Self sal jou uit die duisternis in die lig in optel. 3Jy is in harmonie met Sy Wil. 4Jy kan nie misluk nie, want jou wil is Syne.
8. Vertrou vandag op jou Vader, en wees seker dat Hy jou gehoor en geantwoord het. 2Jy mag miskien nog nie Sy antwoord herken het nie, maar jy kan inderdaad seker wees dat dit reeds vir jou gegee is en dat jy dit nog sal ontvang. 3Probeer om hierdie vertroue in jou geestesdenke te behou, soos jy poog om deur die wolke na die lig te beweeg. 4Probeer onthou dat jy uiteindelik besig is om jou Wil met God se Wil te verenig. 5Probeer om duidelik in gedagte te hou dat, wat jy met God onderneem, moet slaag. 6Laat die krag van God dan in en deur jou werk, sodat Sy Wil en joune kan geskied.
9. Herinner jouself daaraan tydens die korter oefenperiodes wat jy soveel as moontlik sal wil doen as gevolg van die belangrikheid van vandag se idee vir jou en jou geluk, dat jou griewe die lig van die wêreld vir jou bewussyn wegsteek. 2Herinner jouself ook daaraan dat jy nie alleen daarvoor soek nie en dat jy wel weet waar om daarvoor te soek. 3Sê dan:
4My griewe verberg die lig van die wêreld in my. 5Ek kan nie sien wat ek verberg het nie. 6Nogtans wil ek hê dat dit vir my bekend gemaak word, ter wille van my verlossing en vir die verlossing van die wêreld.
7Onthou om in elk geval ook vir jouself te sê:
8As ek hierdie grief hou, sal die lig van die wêreld vir my verborge bly,
as jy vandag versoek sou word om enigiets teen iemand te hou.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 69: My grievances hide the light of the world in me. (ACIM, W-69)


