1. Vandag se idee herbevestig jou toewyding aan verlossing. 2Dit herinner jou ook daaraan dat jy geen ander funksie het nie. 3Beide hierdie gedagtes is sonder meer noodsaaklik vir totale toewyding. 4Verlossing kan nie die enigste doel wees wat jy het as jy nog steeds ander op die kantlyn koester nie. 5Die volle aanvaarding van verlossing as jou enigste funksie, behels noodwendig twee fases: die erkenning van verlossing as jou funksie, en die opgee van al die ander doelstellings en doeleindes wat jy vir jouself uitgedink het.

2. Dit is die enigste manier waarop jy jou regmatige plek onder die verlossers van die wêreld kan inneem. 2Dit is die enigste manier om te kan sê en te bedoel: “My enigste funksie is die een wat God my gegee het.” 3Dit is die enigste manier om innerlike vrede te kry.

3. Sit vir vandag, en vir die komende dae, tien tot vyftien minute opsy vir ’n meer langdurige oefenperiode waartydens jy probeer begryp en aanvaar wat die idee vir die dag werklik beteken. 2Vandag se idee bied jou ’n ontvlugting uit al jou gewaande probleme. 3Dit gee in jou eie hande die sleutel tot die deur van vrede wat jy vir jouself toegemaak het. 4Dit verskaf jou die antwoord op al die soektogte wat jy sedert die begin van tyd onderneem het.

4. Probeer om elke dag, indien moontlik, die daaglikse uitgebreide oefenperiodes op ongeveer dieselfde tyd te doen. 2Probeer ook om hierdie tyd vooraf te bepaal, en dan so na as moontlik daarby te bly. 3Die doel hiervan is om jou dag sodanig te reël dat jy tyd vir God opsy gesit het, naas al die alledaagse planne en doelstellings wat jy gaan najaag. 4Dit is deel van die langtermynopleiding in dissipline wat jou geestesdenke nodig het, sodat die Heilige Gees dit aanhoudend kan gebruik vir die doel wat Hy met jou deel.

5. Begin die langer oefenperiodes deur die idee vir die dag te hersien. 2Sluit dan jou oë, herhaal die idee weer ’n keer vir jouself, en hou jou geestesdenke versigtig dop ten einde enige gedagtes wat dit te binne skiet, te onderskep. 3Moenie aan die begin enige pogings aanwend om slegs te konsentreer op gedagtes wat met vandag se idee verband hou nie. 4Probeer eerder om elke steurende gedagte wat mag opduik te identifiseer. 5Neem kennis van elkeen soos dit by jou opkom, maar met so min betrokkenheid of besorgdheid as moontlik, en laat elkeen dan gaan deur vir jouself te sê:

6Hierdie gedagte weerspieël ’n doelstelling wat my verhoed om my enigste funksie te aanvaar.

6. Na ’n ruk sal belemmerende gedagtes al moeiliker gevind word. 2Probeer egter ’n minuut of langer voortgaan in ’n poging om ’n paar van die ydele gedagtes wat jou aandag voorheen ontsnap het, te betrap, maar moenie jou inspan of oormatig moeite daarmee doen nie. 3Sê dan vir jouself:

              4Laat my ware funksie vir my op hierdie skoon lei geskryf word.

5Jy hoef nie hierdie presiese woorde te gebruik nie, maar probeer die gevoel kry dat jy gewillig is om jou doelstellings van illusies met die doelstellings van waarheid te laat vervang.

7. Herhaal die idee vir vandag, ten slotte, nog ’n keer en wy die res van die oefenperiode daaraan om te probeer fokus op die belangrikheid daarvan vir jou, die verligting wat die aanvaarding daarvan vir jou sal gee deur jou konflikte eens en vir altyd op te los, asook die mate waarin jy werklik verlossing wil hê ten spyte van jou eie dwase teenoorgestelde idees.

8. Gebruik tydens die korter oefenperiodes, wat ten minste een keer ’n uur gedoen moet word, die volgende vorm om vandag se idee toe te pas:

2My enigste funksie is die een wat God my gegee het. 3Ek wil geen ander hê nie en ek het geen ander nie.

4Sluit soms jou oë as jy dit oefen, en hou hulle soms oop en kyk om jou heen. 5Dit is wat jy nou sien wat geheel en al sal verander as jy vandag se idee volkome aanvaar.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 65: My only function is the one God gave me. (ACIM, W-65)