1. Ons het voorheen al opgemerk hoeveel sinlose dinge en sake voorgegee het om jou verlossing te kon wees. 2Elkeen het jou met wette, net so sinloos soos die saak self, gevange gehou. 3Jy is aan hierdie wette nie gebonde nie. 4Maar om te begryp dat dit so is, moet jy eers besef dat verlossing nie daarin lê nie. 5Solank jy daarvoor soek in dinge wat nie betekenis het nie, verbind jy jouself aan wette wat nie sin maak nie. 6So probeer jy om te bewys dat verlossing is waar dit nie is nie.
2. Vandag sal ons bly wees dat jy dit nie kan bewys nie. 2Want as jy kon, sou jy altyd verlossing soek waar dit nie is nie, en dit nie vind nie. 3Vandag se idee vertel jou weereens hoe eenvoudig verlossing is. 4Soek daarvoor waar dit vir jou wag, en daar sal dit gevind word. 5Moet nêrens anders soek nie, want dit is nêrens anders nie.
3. Dink aan die vryheid in die besef dat jy nie gebind is deur al die eienaardige en verwronge wette wat jy opgestel het om jou te red nie. 2Jy dink werklik dat jy van honger sal omkom as jy nie stapels gekleurde stukkies papier en hope metaalplaatjies het nie. 3Jy dink werklik dat ’n klein ronde pilletjie of een of ander vloeistof wat met ’n skerp naald in jou are gedruk word, siekte en dood sal verhoed. 4Jy dink werklik dat jy alleen is, tensy daar ’n ander liggaam by jou is.
4. Dit is waansin wat hierdie dinge dink. 2Jy noem hulle wette, en plaas hulle onder verskillende name in ’n lang lys van rituele wat geen nut het nie en geen doel dien nie. 3Jy dink jy moet die “wette” van die geneeskunde, of die ekonomie of gesondheid gehoorsaam. 4Beskerm die liggaam, en jy sal verlos word.
5. Hierdie is nie wette nie, maar dwaasheid. 2Die liggaam word bedreig deur die geestesdenke wat homself seermaak. 3Die liggaam ly bloot sodat die geestesdenke nie sal sien dat hy die slagoffer van homself is nie. 4Die liggaam se lyding is ’n masker wat die geestesdenke voorhou om dit wat regtig ly te verberg. 5Die geestesdenke wil nie begryp dat hy sy eie vyand is nie, dat hy homself aanval en dat hy wil doodgaan nie. 6Dit is hiervan dat jou “wette” die liggaam wil verlos. 7Om hierdie rede dink jy dat jy ’n liggaam is.
6. Daar is geen ander wette as die wette van God nie. 2Dit moet keer op keer herhaal word, totdat jy besef dat dit van toepassing is op alles wat jy in teenstelling met God se Wil gemaak het. 3Die magiese wat jy beoefen, het geen betekenis nie. 4Wat dit veronderstel is om te verlos, bestaan nie. 5Slegs dit wat dit veronderstel is om weg te steek, sal jou verlos.
7. Die wette van God kan nooit vervang word nie. 2Ons sal hierdie dag daaraan wy om ons te verheug dat dit so is. 3Dit is nie meer ’n waarheid wat ons wil wegsteek nie. 4Ons besef inteendeel dat dit ’n waarheid is wat maak dat ons vir ewig vry bly. 5Die magiese hou gevange, maar die wette van God maak vry. 6Die lig het gekom omdat daar geen ander wette as Syne is nie.
8. Ons sal vandag die langer oefenperiodes begin met ’n kort oorsig van die verskillende soorte “wette” wat ons geglo het ons moet gehoorsaam. 2Dit sou, byvoorbeeld, die “wette” insluit oor voeding, immunisering, medisyne en al die ander tallose maniere waarop die liggaam beskerm word. 3Dink verder na: jy glo in die “wette” van vriendskap, van “goeie” verhoudings en wederkerigheid van gunsbetoning. 4Miskien dink jy selfs dat daar wette is wat bepaal wat van God is en wat van jou is. 5Baie “godsdienste” is hierop gebaseer. 6Hulle verlos nie, maar verdoem in die naam van die Hemel. 7Tog is hulle nie vreemder as die ander “wette” wat volgens jou gehoorsaam moet word om jou te beveilig nie.
9. Daar is geen ander wette as die wette van God nie. 2Raak vandag van alle dwase magiese gelowe ontslae en hou jou geestesdenke in stille gereedheid om die Stem te hoor wat die waarheid met jou praat. 3Jy sal luister na Iemand wat vir jou sê dat daar geen verlies is onder God se wette nie. 4Betaling word nóg gegee nóg ontvang. 5Daar kan nie geruil word nie, daar is geen plaasvervangers nie, en niks neem die plek in van iets anders nie. 6God se wette gee altyd, en neem nooit nie.
10. Luister na Hom Wat dit vir jou vertel, en besef hoe dwaas die “wette” is wat jy gedink het die wêreld, wat jy gedink het jy sien, in stand hou. 2Luister dan verder. 3Hy sal jou nog meer vertel. 4Oor die Liefde wat jou Vader vir jou het. 5Oor die eindelose vreugde wat Hy jou bied. 6Oor Sy verlange na Sy enigste Seun wat as Sy skeppingskanaal geskep is, maar wat Hom ontsê is deur sy geloof in die hel.
11. Laat ons vandag God se kanale vir Hom oopmaak, en Sy Wil deur ons uitbrei na Hom toe. 2So word die skepping eindeloos vermeerder. 3Sy Stem sal ons hiervan vertel, asook van die Hemelse vreugdes wat deur Sy wette vir ewig onbegrens bewaar word. 4Ons sal vandag se idee herhaal totdat ons geluister het en begryp het dat daar geen ander wette as dié van God is nie. 5Dan sal ons vir onsself, as ’n blyk van toewyding waarmee die oefenperiode eindig, sê:
6Ek staan onder geen ander wette as die wette van God nie.
12. Ons sal hierdie blyk van toewyding vandag so dikwels as moontlik herhaal; ten minste vier of vyf keer per uur, en ook as antwoord op enige versoeking om ons deur die dag as onderworpe aan ander wette te voel. 2Dit is ons vryheidsverklaring van alle gevaar en van alle tirannie. 3Dit is ons erkenning dat God ons Vader is, en dat Sy Seun verlos is.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 76: I am under no laws but God’s. (ACIM, W-76)



