1. Ons oordink vandag die wil wat jy met God deel. 2Dit is nie dieselfde as die ego se ydele wense, waaruit die duisternis en niksheid voortspruit nie. 3Die wil wat jy met God deel, het al die krag van skepping daarin. 4Die ego se ydele wense word nie gedeel nie, en het dus geen krag hoegenaamd nie. 5Sy wense is nie heeltemal so ydel nie, in die sin dat hulle wel ’n wêreld van illusies kan maak waarin jy baie sterk kan glo. 6Maar hulle is inderdaad ydel en vrugteloos wanneer dit oor skepping gaan. 7Hulle maak niks wat werklik is nie.

2. Ydele wense en griewe is vennote oftewel medemakers in die verbeelding van die wêreld wat jy sien. 2Die ego se wense het daartoe aanleiding gegee, en die ego se behoefte aan griewe, wat nodig is om hom in stand te hou, bevolk hom met figure wat jou blyk aan te val en wat ’n “regverdige” oordeel eis. 3Hierdie figure word die agente wat die ego in diens neem om met griewe te smous. 4Hulle staan tussen jou bewussyn en jou broers se werklikheid. 5Wanneer jy hulle aanskou, ken jy nie jou broers of jou Self nie.

3. Jou wil het vir jou verlore geraak in hierdie vreemde ruilhandel, waarin skuld heen en weer verkwansel word en griewe met elke ruiling vermeerder. 2Kon so ’n wêreld geskep gewees het deur die Wil wat die Seun van God met sy Vader deel? 3Het God rampspoed vir Sy Seun geskep? 4Skepping is die Wil van Beide saam. 5Sou God ’n wêreld skep wat Homself sou doodmaak?

4. Ons sal vandag weereens probeer om die wêreld te bereik wat in ooreenstemming met jou wil is. 2Die lig is daarin, want dit weerstaan nie die Wil van God nie. 3Dit is nie die Hemel nie, maar die lig van die Hemel skyn daarop. 4Die duisternis het verdwyn. 5Die ego se ydele wense is onttrek. 6Maar die lig wat op hierdie wêreld skyn, weerspieël jou wil en dus moet dit in jou gesoek word.

5. Jou beeld van die wêreld kan slegs weerspieël wat daar binne jou is. 2Nóg die bron van lig, nóg die bron van duisternis kan buite jou gevind word. 3Griewe verduister jou geestesdenke, en jy kyk uit op ’n verduisterde wêreld. 4Vergifnis beëindig die duisternis, herstel jou wil, en laat jou ’n wêreld van lig aanskou. 5Ons het herhaaldelik beklemtoon dat die versperrings en hindernisse van griewe maklik oorkom kan word, en nie tussen jou en jou verlossing kan staan nie. 6Die rede is heel eenvoudig. 7Wil jy regtig in die hel wees? 8Wil jy regtig ween en ly en sterf?

6. Vergeet die ego se argumente wat probeer bewys dat dit alles werklik die Hemel is. 2Jy weet dat dit nie so is nie. 3Jy kan dit nie vir jouself so wil hê nie. 4Daar is ’n punt waar illusies nie kan verbygaan nie. 5Lyding is nie geluk nie, en dit is geluk wat jy regtig wil hê. 6Dit is in waarheid jou wil. 7En dus is verlossing ook jou wil. 8Jy wil slaag in wat ons vandag probeer doen. 9Ons onderneem dit met jou seën en hartlike instemming.

7. Ons sal vandag slaag as jy onthou dat jy vir jouself verlossing wil hê. 2Jy wil God se plan aanvaar, want jy deel daarin. 3Jy het nie ’n wil wat hom werklik daarteen kan verset nie, en jy wil dit ook nie doen nie. 4Verlossing kom jou toe. 5Jy wil, bowenal, die vryheid hê om te onthou Wie jy regtig is. 6Dit is vandag die ego wat magteloos staan voor jou wil. 7Jou wil is vry, en niks kan dit oorweldig nie.

8. Daarom doen ons vandag se oefeninge in blye vertroue, in sekerheid dat ons sal vind wat jy wíl vind, en dat ons sal onthou wat jy wíl onthou. 2Geen ydele wense kan ons verhinder, of ons met ’n illusie van krag mislei nie. 3Laat jou wil vandag geskied, en die waansinnige oortuiging dat jy die hel in plaas van die Hemel verkies vir altyd beëindig.

9. Ons sal die langer oefenperiodes begin met die erkenning dat God se plan vir verlossing en slegs Syne, volkome in ooreenstemming met jou wil is. 2Dit is nie die plan van ’n vreemde mag wat teen jou sin aan jou opgedring word nie. 3Dit is die een plan waaroor jy en jou Vader hier in volkome ooreenstemming verkeer. 4Jy sal vandag slaag, die tydstip wat vasgestel is vir die bevryding van die Seun van God uit die hel en die bevryding van alle ydele wense. 5Nou word hy opnuut van sy wil bewus. 6Hy is op hierdie einste dag gewillig om die lig in homself te aanskou en gered te word.

10. Nadat jy jouself hieraan herinner het, en jou vas voorgeneem het om jou wil duidelik in gedagte te hou, sê vir jouself met sagte vasberadenheid en rustige sekerheid:

2Ek wil dat daar lig moet wees. 3Laat ek die lig aanskou wat God se Wil, en my wil, weerspieël.

4Laat jou wil dan toe om homself te laat geld, verbind met die krag van God en verenig met jou Self. 5Plaas die res van die oefenperiode onder Hulle leiding. 6Sluit jou by Hulle aan soos Hulle die pad aandui.

11. Lê tydens die korter oefenperiodes weer ’n verklaring af van wat jy werklik wil hê. 2Sê:

              3Ek wil dat daar lig moet wees. 4Duisternis is nie my wil nie.

5Dit moet verskeie kere elke uur herhaal word. 6Dit is egter baie belangrik om vandag se idee onmiddellik op hierdie wyse toe te pas as jy in die versoeking kom om ’n grief van enige aard te koester. 7Dit sal jou help om jou griewe te laat vaar, in plaas van te vertroetel en in die donker weg te steek.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 73: I will there be light. (ACIM, W-73)