1. Jy is deur liefde soos homself geskep en kan nie jou Self ken as jy griewe koester nie. 2Om ’n grief te koester, is om te vergeet wie jy is. 3Om ’n grief te koester, beteken om jouself as ’n liggaam te sien. 4Om ’n grief te koester, is om die ego toe te laat om jou geestesdenke te beheer en die liggaam ter dood te veroordeel. 5Miskien besef jy nog net nie ten volle wat dit aan jou geestesdenke doen om griewe te koester nie. 6Dit blyk om jou van jou Bron af te splits en jou anders as Hy te maak. 7Dit laat jou glo dat Hy is soos jy dink jy geword het, want niemand kan sy Skepper as anders as homself voorstel nie.

2. Afgesluit van jou Self, wat bewus bly van Sy gelykenis met Sy Skepper, lyk dit of jou Self slaap, terwyl die deel van jou geestesdenke wat in sy slaap illusies weef, voorkom om wakker te wees. 2Kan dit alles ontstaan deur griewe te koester? 3O ja! Verseker! 4Want hy wat griewe koester, ontken dat hy deur liefde geskep is, en sy Skepper het vir hom angswekkend geword in sy drome van haat. 5Wie kan van haat droom en God nie vrees nie?

3. Net so seker as wat diegene wat griewe koester, God na hul eie beeld herdefinieer, is dit seker dat God hulle soos Homself geskep het, en hulle as deel van Hom gedefinieer het. 2Net so seker as wat diegene wat griewe koester onder skuld gebuk sal gaan, is dit seker dat diegene wat vergewe, vrede sal vind. 3Net so seker as wat diegene wat griewe koester, sal vergeet wie hulle is, is dit seker dat diegene wat vergewe, dit sal onthou.

4. Sou jy nie bereid gewees het om jou griewe te laat vaar as jy geglo het dat dit alles so is nie? 2Miskien dink jy dat jy nie jou griewe kan los nie. 3Dit is egter eenvoudig ’n kwessie van motivering. 4Vandag sal ons probeer uitvind hoe jy sonder hulle sal voel. 5As jy slegs maar in geringe mate daarin slaag, sal daar nooit weer ’n motiveringsprobleem wees nie.

5. Begin vandag se langer oefenperiodes deur jou geestesdenke te ondersoek vir diegene teen wie jy, wat jou betref en soos jy dit sien, ernstige griewe koester. 2Sommiges sal redelik maklik gekry word. 3Dink dan aan die oënskynlik kleiner griewe wat jy hou teen diegene van wie jy hou en van wie jy selfs dink jy lief het. 4Dit sal gou duidelik word dat daar niemand is teen wie jy nie die een of ander grief koester nie. 5Juis vanweë hierdie gegriefdheid sien jy jouself as heeltemal alleen in gans die universum.

6. Besluit nou om al hierdie mense as vriende te sien. 2Terwyl jy aan elkeen om die beurt dink as jy dit doen, sê jy vir hulle almal:

3Ek wil jou as my vriend sien, sodat ek kan onthou dat jy deel van my is en

 ek myself kan leer ken.

4Bestee die res van die oefenperiode daaraan om aan jouself te probeer dink as volkome in vrede met elkeen en alles, veilig in ’n wêreld wat jou beskerm en liefhet, en wat jy op jou beurt ook liefhet. 5Probeer voel hoe veiligheid jou omvou, soos ’n gewelf jou omhul en jou regop hou. 6Probeer om te glo, hoe kort dit ook mag wees, dat niks jou op enige wyse kan skaad nie. 7Sê vir jouself aan die einde van die oefenperiode:

8Liefde koester geen griewe nie. 9As ek al my griewe laat gaan, sal ek weet dat

ek heeltemal veilig is.

7. Telkens wanneer daar in jou gedagtes ’n grief opkom teen iemand, of die persoon nou fisies aanwesig is of nie, moet die kort oefenperiodes ’n vinnige toepassing van vandag se idee in die volgende vorm bevat:

              2Liefde koester geen griewe nie. 3Laat ek nie my Self verraai nie.

4Herhaal die idee boonop ’n paar keer elke uur in hierdie vorm:

5Liefde koester geen griewe nie. 6Ek wil tot my Self ontwaak deur al my griewe opsy te sit en in Hom te ontwaak.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 68: Love holds no grievances. (ACIM, W-68)