1. Vandag se idee is ’n volledige en akkurate verklaring van wat jy is. 2Dit is hoekom jy die lig van die wêreld is. 3Dit is waarom God jou aangestel het as die verlosser van die wêreld. 4Dit is waarom die Seun van God na jou opsien vir sy verlossing. 5Hy word verlos deur wat jy is. 6Ons sal vandag alles in die stryd werp om hierdie waarheid oor jou te bereik, en ten volle te besef dat dit die waarheid is, al is dit net vir ’n oomblikkie.

2. Tydens die langer oefenperiodes sal ons aan jou werklikheid en die volkome onveranderde en onveranderlike aard daarvan dink. 2Ons sal begin deur hierdie waarheid oor jou te herhaal, en dan vyf minute te bestee om sekere verwante gedagtes by te voeg, soos:

              3Heiligheid het my heilig geskep.

              4Vriendelikheid het my vriendelik geskep..

              5Hulpvaardigheid het my hulpvaardig geskep.

              6Volmaaktheid het my volmaak geskep.

7Enige kenmerk wat in ooreenstemming is met God, soos Hy Homself definieer, is geskik om gebruik te word. 8Ons probeer vandag om jou definisie van God ongedaan te maak en dit met Sy Eie te vervang. 9Ons probeer ook beklemtoon dat jy deel van Sy definisie van Homself uitmaak.

3. Nadat jy deur verskeie sulke verwante gedagtes gegaan het, probeer dan om alle gedagtes vir ’n kort voorbereidende periode te laat wegval, en daarna by al jou beelde en vooroordele oor jouself verby te gaan om so die waarheid in jou te bereik. 2As liefde jou soos homself geskep het, moet hierdie Self binne jou wees. 3En êrens in jou geestesdenke lê Dit en wag op jou.

4. Jy mag dit nodig vind om vandag se idee van tyd tot tyd te herhaal om verwarrende gedagtes te vervang. 2Miskien vind jy dit ook onvoldoende, en dat dit nodig is om voortdurend ander gedagtes, wat verband hou met die waarheid oor jouself, by te voeg. 3Maar miskien sal jy daarin slaag om daar verby te gaan, en deur die periode van gedagteloosheid te kom tot by die gewaarwording van ’n stralende lig waarin jy jouself herken soos liefde jou geskep het. 4Wees vol vertroue dat jy vandag baie sal doen om hierdie gewaarwording nader te bring, of jy nou voel dat jy daarin suksesvol is of nie.

5. Dit sal besonder nuttig wees om vandag se idee so dikwels as wat jy kan, te oefen. 2Dit is nodig dat jy die waarheid oor jouself so dikwels as moontlik hoor omdat jou geestesdenke so behep is met vals beelde omtrent jouself. 3Dit sal raadsaam wees om vier of vyf keer ’n uur, en miskien selfs meer, jouself daaraan te herinner dat liefde jou soos homself geskep het. 4Hoor die waarheid oor jouself hierin.

6. Probeer tydens die korter oefenperiodes besef dat dit nie jou nietige eenselwige stemmetjie is wat jou dit vertel nie. 2Dit is die Stem namens God wat jou aan jou Vader en aan jou Self herinner. 3Dit is die Stem van die waarheid wat alles wat die ego jou oor jouself vertel, vervang met die eenvoudige waarheid oor die Seun van God. 4Jy is geskep deur liefde soos homself.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 67: Love created me like itself. (ACIM, W-67)