1. Wie anders as God se Seun is die lig van die wêreld? 2Dit is dus bloot ’n verklaring van die waarheid oor jouself. 3Dit is die teenoorgestelde van ’n verklaring van trots, arrogansie of selfbedrog. 4Dit beskryf nie die selfkonsep wat jy gemaak het nie. 5Dit verwys nie na enige van die kenmerke wat jy jou afgode toebedeel het nie. 6Dit verwys na jou soos jy deur God geskep is. 7Dit stel eenvoudig die waarheid.
2. Vandag se idee is vir die ego die toppunt van selfverheerliking. 2Maar die ego begryp nie nederigheid nie en verwar dit met selfvernedering. 3Nederigheid bestaan uit die aanvaarding van jou rol in die verlossing en dat jy geen ander sal aanneem nie. 4Dit is nie nederigheid om daarop aan te dring dat jy nie die lig van die wêreld kan wees nie, as dit die funksie is wat God aan jou toegeken het. 5Dit is slegs arrogansie wat sou aanvoer dat hierdie funksie nie vir jou bestem kan wees nie, en arrogansie kom altyd van die ego.
3. Ware nederigheid vra dat jy vandag se idee aanvaar, want dit is God se Stem wat jou vertel dat dit waar is. 2Dit is ’n eerste tree om jou werklike funksie op aarde te aanvaar. 3Dit is ’n reuse-stap om jou regmatige plek in verlossing in te neem. 4Dit is ’n positiewe bevestiging van jou reg om verlos te word, en ’n erkenning van die mag wat aan jou gegee is om ander te verlos.
4. Jy sal so dikwels as moontlik vandag aan hierdie idee wil dink. 2Dit is die volmaakte antwoord op alle illusies, en daarom op alle versoekings. 3Dit bring al die beelde wat jy oor jouself gemaak het na die waarheid, en help jou om in vrede heen te gaan, bevry van alle laste en seker van jou doel.
5. Soveel oefenperiodes moontlik moet vandag onderneem word, alhoewel nie een langer as ’n minuut of twee hoef te wees nie. 2Begin hulle deur vir jouself te sê:
3Ek is die lig van die wêreld. 4Dit is my enigste funksie.
5Dit is waarom ek hier is.
6Dink dan vir ’n kort rukkie oor hierdie stellings, verkieslik met toe oë as omstandighede dit toelaat. 7Laat ’n paar verwante gedagtes by jou opkom en herhaal die idee vir jouself as jou gedagtes van die kerngedagte afdwaal.
6. Moenie vergeet om die dag met ’n oefenperiode te begin en te eindig nie. 2Op dié manier sal jy wakker word met ’n erkenning van die waarheid oor jouself, dit dwarsdeur die dag versterk, en gaan slaap met die herbevestiging van jou enigste funksie en doel hier. 3Hierdie twee oefenperiodes mag langer as die ander wees, as jy hulle nuttig vind en hulle wil uitbrei.
7. Vandag se idee gaan die ego se beuselagtige idees oor wat jy is en wat jou doel hier is, ver te bowe. 2Vir jou as die een wat verlossing bring, is dit duidelik noodsaaklik. 3Dit is die eerste van ’n aantal reuse-stappe wat ons in die volgende paar weke gaan neem. 4Probeer vandag om ’n stewige fondament vir hierdie opmars te begin bou. 5Jy is die lig van die wêreld. 6God het Sy plan vir die verlossing van Sy Seun op jou gebou.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 61: I am the light of the world. (ACIM, W-61)


