1. God vergewe nie, want Hy het nooit veroordeel nie. 2En daar moet veroordeling wees voordat vergifnis nodig is. 3Vergifnis is die groot behoefte van hierdie wêreld, maar dit is omdat dit ’n wêreld van illusies is. 4Dié wat vergewe, bevry hulleself dus van illusies, terwyl dié wat hulle van vergifnis weerhou, hulleself daaraan bind. 5Net soos jy alleen jouself veroordeel, vergewe jy ook alleen jouself.

2. Maar alhoewel God nie vergewe nie, is Sy Liefde nietemin die basis vir vergifnis. 2Vrees veroordeel en liefde vergewe. 3Vergifnis maak ongedaan wat deur vrees veroorsaak is, en laat die geestesdenke weer terugkeer om bewus te word van God. 4Om hierdie rede kan vergifnis waarlik verlossing genoem word. 5Dit is die middel waardeur illusies verdwyn.

3. Vandag se oefeninge vereis ten minste drie oefenperiodes van ’n volle vyf minute elk, en soveel korter toepassings as moontlik. 2Begin die langer oefenperiodes deur vandag se idee, soos gewoonlik, vir jouself te herhaal. 3Sluit jou oë as jy dit doen en bestee ’n minuut of twee om jou geestesdenke te ondersoek vir diegene wat jy nog nie vergewe het nie. 4Dit maak nie saak “hoeveel” jy hulle nie vergewe het nie. 5Jy het hulle volkome vergewe of glad nie.

4. As jy die oefeninge goed doen, sal dit nie vir jou moeilik wees om ’n aantal mense te kry wat jy nie vergewe het nie. 2Jy kan van die veilige veronderstelling uitgaan dat enigeen van wie jy nie hou nie, ’n geskikte onderwerp is. 3Noem elkeen op sy naam en sê:

              4God is die Liefde waarin ek jou, (naam), vergewe.

5. Die bedoeling van die eerste fase van vandag se oefenperiodes is om jou in staat te stel om jouself te vergewe. 2Nadat jy die idee toegepas het op almal wat in jou geestesdenke opgekom het, sê vir jouself:

              3God is die Liefde waarin ek myself vergewe.

4Bestee dan die res van die oefenperiode daaraan om verwante idees, soos die volgende, by te voeg:

              5God is die Liefde waarmee ek myself lief het.

              6God is die Liefde waarin ek geseënd is.

6. Die toepassingsvorm mag aansienlik varieer, maar die sentrale idee moet nie uit die oog verloor word nie. 2Jy sou byvoorbeeld kon sê:

              3Ek kan nie skuldig wees nie, want ek is ’n Seun van God.

              4Ek is alreeds vergewe.

            5Geen vrees is moontlik in geestesdenke wat deur God bemin word nie.

              6Dit is nie nodig om aan te val nie, want liefde het my vergewe.

7Die oefenperiode moet egter eindig met ’n herhaling van die dag se idee soos dit oorspronklik gestel is.

7. Die korter oefenperiodes kan bestaan uit óf ’n herhaling van die dag se idee in sy oorspronklike óf in ’n verwante vorm, net soos jy verkies. 2Sorg egter om meer spesifieke toepassings te maak as dit nodig is. 3Hulle sal nodig wees op elke oomblik van die dag wanneer jy bewus word van enige soort negatiewe reaksie teenoor iemand, hetsy teenwoordig of nie. 4In dié geval, sê stil vir hom:

              5God is die Liefde waarin ek jou vergewe.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 46: God is the Love in which I forgive. (ACIM, W-46)