1. Vandag se idee sal uiteindelik die gevoel van eensaamheid en verlatenheid wat alle geskeidenes ervaar, volledig oorwin. 2Depressie is ’n onvermydelike gevolg van skeiding. 3So ook angs, bekommernis, ’n diep gevoel van hulpeloosheid, ellende, lyding en intense vrees vir verlies.

2. Die geskeidenes het baie “geneesmiddels” uitgevind vir wat hulle glo die “kwale van die wêreld” is. 2Maar die een ding wat hulle nie doen nie, is om die werklikheid van die probleem te bevraagteken. 3En aangesien die probleem nie werklik is nie, kan geen geneesmiddel help vir die gevolge daarvan nie. 4Vandag se idee het die krag om al hierdie dwaasheid vir altyd te beëindig. 5En dwaasheid is dit inderdaad, ondanks die ernstige en tragiese vorms wat dit kan aanneem.

3. Diep in jou is alles wat volmaak is, gereed om deur jou na die wêreld uitgestraal te word. 2Dit sal alle smart en pyn en vrees en verlies genees, want dit sal die geestesdenke genees wat gedink het dat hierdie dinge werklik was, en gely het as gevolg van sy trou daaraan.

4. Jy kan nooit van jou volmaakte heiligheid ontneem word nie, want die Bron daarvan gaan waar jy ook al gaan. 2Jy kan nooit ly nie, want die Bron van alle vreugde gaan met jou waar jy ook al gaan. 3Jy kan nooit alleen wees nie, want die Bron van alle lewe gaan met jou waar jy ook al gaan. 4Niks kan die vrede van jou geestesdenke versteur nie, want God gaan met jou waar jy ook al gaan.

5. Ons begryp dat jy dit nie alles glo nie. 2Hoe kan jy, wanneer die waarheid diep in jou weggesteek is onder ’n swaar wolk van waansinnige gedagtes, dig en verhullend, maar nogtans alles verteenwoordig wat jy sien? 3Vandag sal ons ons eerste egte poging aanwend om by hierdie donker en swaar wolk verby te kom en deur dit na die lig daaragter te gaan.

6. Daar sal vandag net een lang oefenperiode wees. 2Sit in die oggend, indien moontlik sodra jy opstaan, stil vir so drie of vyf minute met jou oë toe. 3Herhaal vandag se idee baie stadig aan die begin van die oefenperiode. 4Doen daarna geen moeite om aan enigiets te dink nie. 5Probeer in plaas daarvan om ’n gevoel van inkeer tot jouself te kry, verby al die nuttelose gedagtes van die wêreld. 6Probeer om jou eie geestesdenke baie diep binne te gaan, en dit skoon en vry te hou van enige gedagtes wat jou aandag mag aflei.

7. Jy kan die idee van tyd tot tyd herhaal, as jy dit nuttig vind. 2Maar probeer bowenal om na binne af te sink, weg van die wêreld en al die dwase gedagtes daarvan. 3Jy probeer verder reik as al hierdie dinge. 4Jy probeer om alle skyn agter te laat en al nader te kom aan die werklikheid.

8. Dit is heeltemal moontlik om God te bereik. 2Dit is in werklikheid baie maklik, want dit is die natuurlikste ding ter wêreld. 3Jy kan selfs sê dat dit die enigste natuurlike ding in die wêreld is. 4Die pad sal vir jou oopgaan, as jy glo dat dit moontlik is. 5Hierdie oefening kan verbysterende resultate oplewer, selfs al met die eerste poging, en is vroeër of later altyd suksesvol. 6Op die fyner besonderhede van hierdie oefening sal daar na gelang van vordering ingegaan word. 7Maar dit sal nooit heeltemal misluk nie, en onmiddellike sukses is moontlik.

9. Gebruik vandag se idee dikwels deur die dag deur dit stadig te herhaal, verkieslik met geslote oë. 2Dink aan wat jy sê, en wat die woorde beteken. 3Konsentreer op die heiligheid wat hulle oor jou impliseer, op die altyd aanwesige kameraadskap wat jou deel is, op die volledige beskerming wat jou omring.

10. Jy kan inderdaad bekostig om te lag oor vreesgedagtes, wanneer jy onthou dat God met jou gaan, waar jy ook al gaan.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 41: God goes with me wherever I go. (ACIM, W-41)