1. Dit is jou vergifnis wat die wêreld van duisternis na die lig sal bring. 2Dit is jou vergifnis wat jou die lig waarin jy sien, laat herken. 3Vergifnis is die demonstrasie dat jy die lig van die wêreld is. 4Deur jou vergifnis onthou jy weer die waarheid oor jouself. 5Daarom lê jou verlossing in jou vergifnis.
2. Illusies oor jouself en die wêreld is een en dieselfde. 2Dit is hoekom alle vergifnis ’n geskenk aan jouself is. 3Jou doel is om uit te vind wie jy is omdat jy jou Identiteit ontken het deur die skepping en sy Skepper aan te val. 4Nou leer jy hoe om die waarheid te onthou. 5Want hierdie aanval moet deur vergifnis vervang word, sodat gedagtes van die lewe gedagtes van die dood kan vervang.
3. Onthou dat jy met elke aanval ’n beroep doen op jou eie swakheid, terwyl jy met elke daad van vergifnis ’n beroep doen op die krag van Christus in jou. 2Begin jy dan nie begryp wat vergifnis vir jou kan beteken nie? 3Dit sal alle gevoel van swakheid, inspanning en vermoeidheid uit jou geestesdenke verwyder. 4Dit sal alle vrees en skuld en pyn verwyder. 5Dit sal jou opnuut bewus maak van die onkwetsbaarheid en krag wat God Sy Seun gegee het.
4. Laat ons bly wees om hierdie dag te begin en te eindig deur vandag se idee toe te pas en dit so dikwels as moontlik die hele dag deur te gebruik. 2Dit sal help om die dag vir jou so gelukkig te maak soos God wil hê jy moet wees. 3En dit sal diegene om jou, asook diegene wat in tyd en ruimte ver weg blyk te wees, help om hierdie geluk met jou te deel.
5. Sluit jou oë vandag, so dikwels as wat jy moontlik kan, en sê vir jouself:
2Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.
3Ek sal my funksie vervul, sodat ek gelukkig kan wees.
4Bestee dan ’n minuut of twee om oor jou funksie, en die geluk en bevryding wat dit jou sal bring, te dink. 5Laat verwante gedagtes vrylik opkom, want jou hart sal hierdie woorde herken, en in jou geestesdenke is die besef en bewustheid dat hulle waar is. 6As jou aandag sou afdwaal, herhaal die idee en voeg by:
7Ek sal dit onthou, want ek wil gelukkig wees.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 62: Forgiveness is my function as the light of the world. (ACIM, W-62)


