Etiket: LaatVreesLos

Les 94 – Ek is soos God my geskep het.

1. Vandag gaan ons verder met die een idee wat volkome verlossing bring, die een verklaring wat alle vorms van versoeking magteloos laat; die een gedagte wat die ego stil en heeltemal ongedaan maak. 2Jy is soos God jou geskep het. 3Die geluide van hierdie wêreld word stil, die beelde van hierdie wêreld verdwyn, en al die gedagtes wat hierdie wêreld ooit bevat het, word vir ewig weggevee deur hierdie een idee. 4Hier is verlossing volbring. 5Hier is geestesgesondheid herstel.

2. Ware lig is krag, en krag is sondeloosheid. 2As jy so bly soos God jou geskep het, moet jy sterk wees en moet die lig in jou wees. 3Hy Wat jou sondeloosheid verseker het, moet ook die waarborg vir krag en lig wees. 4Jy is soos God jou geskep het. 5Die duisternis kan nie die glorie van God se Seun verberg nie. 6Jy staan in die lig, sterk in die sondeloosheid waarin jy geskep was, en waarin jy sal bly vir alle ewigheid.

3. Vandag sal ons weereens die eerste vyf minute van elke uur wat jy wakker is, bestee om die waarheid in jou te probeer voel. 2Begin hierdie periodes van ondersoek met hierdie woorde:

 3Ek is soos God my geskep het.

 4Ek is vir ewig Sy Seun.

5Probeer nou om die Seun van God in jou te bereik. 6Dit is die Self wat nooit gesondig het, of nooit ’n beeld gemaak het om die werklikheid te verplaas nie. 7Dit is die Self wat nooit Sy tuiste in God verlaat het om onseker in die wêreld te leef nie. 8Dit is die Self wat geen vrees ken, of wat Hom verlies of lyding of dood kan voorstel nie.

4. Niks word van jou verlang om hierdie doel te bereik nie, behalwe om alle afgode en selfbeelde opsy te sit; om by die lys van eienskappe, beide goed en sleg, wat jy aan jouself toegeskryf het, verby te gaan; en in stille verwagting die waarheid af te wag. 2God Self het belowe dat dit aan almal wat daarom vra, geopenbaar sal word. 3Jy vra nou. 4Jy kan nie faal nie, want Hy kan nie faal nie.

5. As jy nie aan die vereiste oefening elke eerste vyf minute van elke uur kan voldoen nie, herinner jouself dan ten minste elke uur:

 2Ek is soos God my geskep het.

3Ek is vir ewig Sy Seun.

4Vertel jouself vandag herhaaldelik dat jy is soos God jou geskep het. 5En vergeet nie om op enigeen wat jou blyk te irriteer, met hierdie woorde te reageer nie:

  6Jy is soos God jou geskep het.

  7Jy is vir ewig Sy Seun.

8Wend alle moontlike pogings aan om vandag die uurlikse oefeninge te doen. 9Elkeen wat jy doen, sal ’n reuse stap op pad na jou verlossing wees, en ’n mylpaal in die denksisteem wat hierdie kursus uiteensit.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 94: I am as God created me. (ACIM, W-94)

Les 92 – Wonders word in die lig gesien, en lig en krag is één.

1. Vandag se idee is ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Jy dink nie aan lig in terme van krag, en aan duisternis in terme van swakheid nie. 3Die rede is dat jou idee van wat sien beteken, verstrengel is met die liggaam en sy oë en sy brein. 4Daarom glo jy dat jy wat jy sien, kan verander deur bloot stukkies glas voor jou oë te plaas. 5Dit is maar een van vele magiese oortuigings wat ontstaan uit die oortuiging dat jy ’n liggaam is, en dat die liggaam se oë kan sien.

2. Jy glo ook dat die liggaam se brein kan dink. 2As jy maar die aard van denke begryp het, sou jy net vir hierdie waansinnige idee kon lag. 3Dit is asof jy sou kon glo dat jy die vuurhoutjie vashou wat die son aansteek en hom al sy hitte verskaf; of dat jy die wêreld in jou een hand hou, waarin dit veilig geborge lê totdat jy dit weer laat gaan. 4Tog is dit niks dwaser as om te glo dat die liggaam se oë kan sien nie of dat die liggaam se brein kan dink nie.

3. Dit is God se krag in jou wat die lig is waarin jy sien, soos dit Sy Geestesdenke is waarmee jy dink. 2Sy krag ontken en weerspreek jou swakheid. 3Dit is jou swakheid wat deur die liggaam se oë kyk, en in die duisternis rondloer op soek na sy ewebeeld: die kleines, die swakkes, die siekes en sterwendes, die noodlydendes, die hulpeloses en bevreesdes, die bedroefdes, die armes en die vreugdeloses. 4Dit word gesien deur oë wat nie kan sien nie, en wat nie kan seën nie.

4. Krag sien hierdie dinge nie raak nie deur verby die misleidende uiterlikhede te kyk. 2Dit hou ’n standvastige blik op die lig wat daaragter lê. 3Dit verenig met lig, waarvan dit ’n deel uitmaak. 4Krag sien homself. 5Krag bring die lig waarin jou Self verskyn. 6In die duisternis sien jy ’n self wat nie daar is nie. 7Krag is die waarheid oor jou; swakheid is ’n afgod wat valslik aanbid en verheerlik word sodat die krag verdryf kan word, en sodat duisternis kan heers waar God bepaal het daar lig moet wees.

5. Krag spruit uit waarheid, en straal die lig uit wat sy Bron hom gegee het; swakheid weerspieël die duisternis van sy maker. 2Swakheid is siek en hou die oog op siekte wat soos hyself is. 3Waarheid is ’n verlosser en kan slegs geluk en vrede vir elkeen wil. 4Waarheid verskaf die krag daarvan aan elkeen wat vra, in voorsiening sonder grense. 5Waarheid sien dat ’n tekort in een ’n tekort in almal sal wees. 6En so verskaf dit lig dat almal kan sien en as één baat kan vind. 7Die krag daarvan word gedeel, sodat dit aan almal die wonder kan bring waarbinne hulle sal verenig in doel en vergifnis en liefde.

6. Swakheid, wat in die duisternis kyk, kan nie ’n doel in vergifnis en liefde sien nie. 2Hy sien al die ander as anders as hyself, en niks in die wêreld wat hy sou wil deel nie. 3Hy oordeel en veroordeel, maar het nie lief nie. 4Hy bly in die duisternis om homself te verberg, en droom dat hy sterk en seëvierend is, ’n oorwinnaar van beperkings wat net in die duisternis enorme gestalte kan kry.

7. Swakheid is bang en val aan en haat homself, en duisternis omhul alles wat hy sien, en maak sy drome net so angswekkend soos hyself. 2Hier is geen wonders nie, maar slegs haat. 3Dit skei hom van wat hy sien, terwyl lig en krag hulleself as één waarneem. 4Die lig van krag is nie die lig wat jy sien nie. 5Dit verander en flikker nie en dit gaan nie dood nie. 6Dit wissel nie van nag na dag en weer terug na die duisternis tot die oggend weer aanbreek nie.

8. Die lig van krag is konstant, so seker soos die liefde, altyd bly om homself weg te gee, want hy kan aan niks anders as homself gee nie. 2Niemand kan vergeefs vra om sy sig te deel nie, en niemand wat sy tuiste binnegaan, kan dit verlaat sonder ’n wonder voor sy oë, en sonder dat daar krag en lig in sy hart woon nie.

9. Die krag in jou sal jou die lig skenk, en jou sig so rig en lei dat jy nie tyd sal mors met nuttelose skaduwees wat die oë van die liggaam aan jou verskaf vir selfmisleiding nie. 2Krag en lig verenig in jou, en waar hulle ontmoet, staan jou Self gereed om jou as Sy Eie te omhels. 3En dit is die ontmoetingsplek wat ons vandag probeer vind om daar te rus, want die vrede van God is waar jou Self, Sy Seun, nou wag om Homself weer te ontmoet, en één te wees.

10. Laat ons vandag twee keer twintig minute daaraan wy, om aan hierdie ontmoeting deel te neem. 2Laat jouself na jou Self gebring word. 3Sy krag sal die lig wees wat deur die gawe van sig aan jou gegee word. 4Verlaat die duisternis dus vandag vir ’n klein rukkie, en ons sal oefen om die lig te sien, deur die liggaam se oë te sluit en die waarheid te vra om ons te wys hoe om die ontmoetingsplek van die self en die Self te vind, waar lig en krag één is.

11. In die oggend en in die aand sal ons so oefen. 2Na die oggend se ontmoeting sal ons die dag gebruik as voorbereiding vir dié tyd in die aand wanneer ons weer in vertroue sal ontmoet. 3Laat ons vandag se idee so dikwels as moontlik herhaal, en besef dat ons aan ware sien bekend gestel word, en van die duisternis na die lig weggevoer word waar alleenlik wonders waargeneem kan word.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 92: Miracles are seen in light, and light and strength are one. (ACIM, W-92)

Les 87 – Hersiening (73-74)

Ons hersiening sal vandag hierdie idees dek:

1. (73) Ek wil dat daar lig moet wees

2Ek sal vandag die krag van my wil gebruik. 3Dit is nie my wil om in die duister rond te tas, bang vir skaduwees en onsigbare en onwerklike dinge nie. 4Lig sal vandag my gids wees. 5Ek sal dit volg waarheen dit my lei, en ek sal slegs sien wat dit my wys. 6Vandag sal ek die vrede van ware persepsie ervaar.

2. Die volgende vorms van die idee sal nuttig wees vir konkrete toepassing:

2Dit kan die lig wat ek wil sien, nie wegsteek nie.

3Jy staan saam met my in die lig, (naam).

4In die lig sal dit anders lyk.

3. (74) Daar is geen ander wil as God se Wil nie.

2Ek is vandag veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie. 3Ek kan net bang word as ek glo dat daar ’n ander wil is. 4Ek probeer aanval slegs wanneer ek bang is, en net wanneer ek probeer aanval, kan ek glo dat my ewige veiligheid bedreig word. 5Vandag sal ek insien dat dit alles nie gebeur het nie. 6Ek is veilig, want daar is geen ander wil as God se Wil nie.

4. Hier volg ’n paar nuttige vorms van hierdie idee vir konkrete toepassing:

2Laat ek dit in ooreenstemming met die Wil van God sien.

3Dit is God se Wil dat jy Sy Seun is, (naam), en dis ook my wil.

4Dit is deel van God se Wil vir my, hoe ek dit ook al mag sien.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 87: Review (73-74). (ACIM, W-87)

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑