Vir hierdie hersiening sal ons die volgende idees gebruik:
1. (79) Laat my sien wat die probleem is, sodat dit opgelos kan word.
2Laat ek vandag besef dat die probleem altyd ’n grief van een of ander aard is wat ek wil koester en vertroetel. 3Laat ek ook begryp dat die oplossing altyd ’n wonder is waarmee ek die grief laat vervang. 4Ek wil vandag die eenvoud van verlossing onthou deur die les te bekragtig dat daar net één probleem en één oplossing is. 5Die probleem is ’n grief, die oplossing is ’n wonder. 6En ek nooi die oplossing uit om na my te kom deur die grief te vergewe en die wonder te verwelkom wat die plek daarvan inneem.
2. Spesifieke toepassings van hierdie idee kan in die volgende vorms voorkom:
2Dit veroorsaak vir my ’n probleem wat ek opgelos sou wil sien.
3Die wonder agter hierdie grief sal dit vir my oplos.
4Die antwoord op hierdie probleem is die wonder wat dit verborge hou.
3. (80) Laat my sien dat my probleme opgelos is.
2Dit kom voor of ek probleme het slegs omdat ek tyd misbruik. 3Ek glo dat die probleem eerste kom en dat daar tyd moet verstryk voordat dit opgelos kan word. 4Ek sien nie dat die probleem en die antwoord gelyktydig voorkom nie. 5Dit is so omdat ek nog nie besef dat God die antwoord saam met die probleem verskaf het nie, sodat hulle nie deur tyd geskei kan word nie. 6Die Heilige Gees sal my dit leer, as ek Hom toelaat. 7En ek sal begryp dat dit onmoontlik is dat ek ’n probleem kan hê wat nie alreeds opgelos is nie.
4. Die volgende vorms van die idee sal bruikbaar wees vir spesifieke toepassing:
2Ek hoef nie te wag dat dit opgelos word nie.
3Die antwoord op hierdie probleem is alreeds vir my gegee, as ek dit wil aanvaar.
4Tyd kan nie hierdie probleem van sy oplossing skei nie.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
1. ’n Probleem kan nie opgelos word as jy nie weet wat dit is nie. 2Selfs as dit in werklikheid reeds opgelos is, sal jy steeds die probleem hê, omdat jy nie sal sien dat dit opgelos is nie. 3Dit is die situasie waarin die wêreld hom bevind. 4Die probleem van skeiding wat inderdaad die enigste probleem is, is alreeds opgelos. 5Maar die oplossing word nie gesien nie omdat die probleem nie gesien word nie.
2. Dit lyk of iedereen in hierdie wêreld sy eie spesiale probleme het. 2Tog is hulle almal dieselfde en moet hulle as een gesien word om die enkele oplossing wat hulle almal oplos, te kan aanvaar. 3Wie kan sien dat ’n probleem opgelos is as hy dink dat die probleem iets anders is? 4Selfs as hy die antwoord gegee word, kan hy nie die toepaslikheid daarvan sien nie.
3. Dit is die situasie waarin jy jouself nou bevind. 2Jy het die antwoord, maar jy is steeds onseker oor wat die probleem is. 3’n Lang ry verskillende probleme blyk jou te konfronteer en net soos die een opgelos word, duik die volgende een op, en die volgende een na hom. 4Dit kom voor of daar geen einde aan is nie. 5Daar is geen oomblik dat jy volkome vry van probleme voel en vrede het nie.
4. Die versoeking om probleme as legio te beskou, is die versoeking om die probleem van die skeiding onopgelos te hou. 2Dit kom voor of die wêreld jou ’n groot aantal probleme bied wat elkeen ’n verskillende antwoord vereis. 3Hierdie persepsie plaas jou in ’n posisie waar jou probleemoplossing onvoldoende is en mislukking onafwendbaar is.
5. Niemand kan al die probleme wat die wêreld blyk te besit, oplos nie. 2Hulle skyn op soveel vlakke te lê, in soveel verskillende vorms met soveel afwisselende inhoude, dat hulle jou voor ’n onmoontlike situasie plaas. 3Ontsteltenis en depressie is onvermydelik as jy op hulle ag slaan. 4Sommiges duik onverwags op, net wanneer jy dink jy die voriges opgelos het. 5Ander bly onopgelos onder ’n wolk van ontkenning, en steek van tyd tot tyd kop uit om by jou te spook, net om weer weggesteek, maar steeds onopgelos te bly.
6. Al hierdie ingewikkeldheid is maar net ’n desperate poging om nie die probleem te sien nie, en dit daarom nie opgelos te laat word nie. 2As jy kon insien dat jou enigste probleem skeiding is, ongeag die vorm wat dit aanneem, sou jy die antwoord kon aanvaar omdat jy die toepaslikheid daarvan sou sien. 3As jy die gemene deler in al die probleme wat jou konfronteer kon sien, sou jy begryp dat jy oor die middele beskik om hulle almal op te los. 4En jy sou die middele aanwend omdat jy die probleem sien.
7. In ons langer oefenperiodes sal ons vandag vra wat die probleem is, en wat die antwoord daarop is. 2Ons sal nie aanneem dat ons alreeds weet nie. 3Ons sal probeer om ons geestesdenke te bevry van al die verskillende soorte probleme wat ons dink ons het. 4Ons sal probeer om in te sien dat ons slegs één probleem het, wat ons misluk het om te sien. 5Ons sal vra wat dit is en vir die antwoord wag. 6Dit sal vir ons gegee word. 7Dan sal ons vir die oplossing daarvoor vra. 8En dit sal vir ons gegee word.
8. Vandag se oefening sal suksesvol wees in die mate waarin jy nie daarop aandring om die probleem te definieer nie. 2Miskien sal jy nie daarin slaag om al jou vooropgestelde idees te laat vaar nie, maar dit is nie nodig nie. 3Al wat nodig is, is om in ’n mate die werklikheid van jou weergawe van die probleem te betwyfel. 4Jy probeer insien dat jy die antwoord gekry het deur die probleem te sien, sodat die probleem en die antwoord bymekaar gebring kan word en jy vrede kan hê.
9. Die korter oefenperiodes sal vandag nie deur tyd nie, maar deur behoeftes bepaal word. 2Jy sal vandag baie probleme sien, wat elkeen ’n antwoord verlang. 3Ons pogings sal daarop gerig wees om in te sien dat daar slegs één probleem en één antwoord is. 4Met hierdie insig is alle probleme opgelos. 5Met hierdie insig is daar vrede.
10. Moenie vandag deur die vorm van die probleme mislei word nie. 2Elke keer as enige moeilikheid blyk op te duik, sê vinnig vir jouself:
3Laat my sien wat die probleem is, sodat dit opgelos kan word.
4Probeer dan alle oordeel oor wat die aard van die probleem is, op te skort. 5Sluit jou oë vir ’n oomblik, as dit moontlik is, en vra wat dit is. 6Jy sal gehoor word en jy sal geantwoord word.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.