Etiket: LaatMySienDatMyProblemeOpgelosIs

Les 90 – Hersiening (79-80)

Vir hierdie hersiening sal ons die volgende idees gebruik:

1. (79) Laat my sien wat die probleem is, sodat dit opgelos kan word.

2Laat ek vandag besef dat die probleem altyd ’n grief van een of ander aard is wat ek wil koester en vertroetel. 3Laat ek ook begryp dat die oplossing altyd ’n wonder is waarmee ek die grief laat vervang. 4Ek wil vandag die eenvoud van verlossing onthou deur die les te bekragtig dat daar net één probleem en één oplossing is. 5Die probleem is ’n grief, die oplossing is ’n wonder. 6En ek nooi die oplossing uit om na my te kom deur die grief te vergewe en die wonder te verwelkom wat die plek daarvan inneem.

2. Spesifieke toepassings van hierdie idee kan in die volgende vorms voorkom:

2Dit veroorsaak vir my ’n probleem wat ek opgelos sou wil sien.

3Die wonder agter hierdie grief sal dit vir my oplos.

4Die antwoord op hierdie probleem is die wonder wat dit verborge hou.

3. (80) Laat my sien dat my probleme opgelos is.

2Dit kom voor of ek probleme het slegs omdat ek tyd misbruik. 3Ek glo dat die probleem eerste kom en dat daar tyd moet verstryk voordat dit opgelos kan word. 4Ek sien nie dat die probleem en die antwoord gelyktydig voorkom nie. 5Dit is so omdat ek nog nie besef dat God die antwoord saam met die probleem verskaf het nie, sodat hulle nie deur tyd geskei kan word nie. 6Die Heilige Gees sal my dit leer, as ek Hom toelaat. 7En ek sal begryp dat dit onmoontlik is dat ek ’n probleem kan hê wat nie alreeds opgelos is nie.

4. Die volgende vorms van die idee sal bruikbaar wees vir spesifieke toepassing:

2Ek hoef nie te wag dat dit opgelos word nie.

3Die antwoord op hierdie probleem is alreeds vir my gegee, as ek dit wil aanvaar.

4Tyd kan nie hierdie probleem van sy oplossing skei nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 90: Review (79-80). (ACIM, W-90)

Les 80 – Laat my sien dat my probleme opgelos is.

1. As jy gewillig is om jou probleme te sien, sal jy sien dat jy geen probleme het nie. 2Jou een kernprobleem is opgelos, en jy het geen ander nie. 3Daarom moet jy vrede hê. 4Verlossing hang dus daarvan af om hierdie één probleem te sien, en te begryp dat dit opgelos is. 5Één probleem, één oplossing. 6Verlossing is volbring. 7Vryheid van konflik is jou gegee. 8Aanvaar dié feit, en jy is gereed om jou regmatige plek in God se verlossingsplan in te neem.

2. Jou enigste probleem is opgelos! 2Herhaal dit vandag ’n paar keer vir jouself, met dankbaarheid en oortuiging. 3Jy het jou enigste probleem gesien, en die pad vir die Heilige Gees oopgemaak om jou God se antwoord te gee. 4Jy het misleiding opsy gesit, en die lig van die waarheid gesien. 5Jy het verlossing vir jouself aanvaar deur die probleem by die antwoord te bring. 6En jy kan die oplossing herken, want die probleem is geïdentifiseer.

3. Jy is vandag op vrede geregtig. 2’n Probleem wat opgelos is, kan jou nie kwel nie. 3Maak net seker dat jy nie vergeet dat alle probleme dieselfde is nie. 4Hulle vele vorms sal jou nie mislei as jy dít onthou nie. 5Één probleem, één oplossing. 6Aanvaar die vrede wat hierdie eenvoudige stelling bring.

4. In ons langer oefenperiodes sal ons vandag op die vrede aanspraak maak, dié vrede wat ook ons vrede moet wees as die probleem en die antwoord bymekaar gebring word. 2Die probleem moet weg wees, want God se antwoord kan nie faal nie. 3As jy die een gesien het, het jy ook die ander een gesien. 4Die oplossing is inherent aan die probleem. 5Jy word geantwoord, en het die antwoord aanvaar. 6Jy is verlos.

5. Laat die vrede wat jou aanvaarding meebring nou aan jou gegee word. 2Sluit jou oë, en ontvang jou beloning. 3Sien dat jou probleme opgelos is. 4Sien dat jy sonder konflik is: vry en in vrede. 5Onthou bowenal dat jy één probleem het, en dat die probleem één oplossing het. 7Juis hierin is die eenvoud van die verlossing geleë. 7Juis hierdeur is dit gewaarborg om te werk.

6. Verseker jouself vandag dikwels dat jou probleme opgelos is. 2Herhaal die idee met volle oortuiging, so dikwels as moontlik. 3En maak veral seker om vandag se idee toe te pas op enige spesifieke probleem wat mag opduik. 4Sê vinnig:

5Laat my sien dat hierdie probleem opgelos is.

7. Laat ons vasbeslote wees om nie vandag griewe op te gaar nie. 2Laat ons vasbeslote wees om vry te wees van probleme wat nie bestaan nie. 3Die middel behels eenvoudige eerlikheid. 4Moenie jouself om die bos lei oor wat die probleem is nie, en jy sal sekerlik sien dat dit opgelos is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 80: Let me recognize my problems have been solved. (ACIM, W-80)

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑