Etiket: GodSeKrag

Les 92 – Wonders word in die lig gesien, en lig en krag is één.

1. Vandag se idee is ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Jy dink nie aan lig in terme van krag, en aan duisternis in terme van swakheid nie. 3Die rede is dat jou idee van wat sien beteken, verstrengel is met die liggaam en sy oë en sy brein. 4Daarom glo jy dat jy wat jy sien, kan verander deur bloot stukkies glas voor jou oë te plaas. 5Dit is maar een van vele magiese oortuigings wat ontstaan uit die oortuiging dat jy ’n liggaam is, en dat die liggaam se oë kan sien.

2. Jy glo ook dat die liggaam se brein kan dink. 2As jy maar die aard van denke begryp het, sou jy net vir hierdie waansinnige idee kon lag. 3Dit is asof jy sou kon glo dat jy die vuurhoutjie vashou wat die son aansteek en hom al sy hitte verskaf; of dat jy die wêreld in jou een hand hou, waarin dit veilig geborge lê totdat jy dit weer laat gaan. 4Tog is dit niks dwaser as om te glo dat die liggaam se oë kan sien nie of dat die liggaam se brein kan dink nie.

3. Dit is God se krag in jou wat die lig is waarin jy sien, soos dit Sy Geestesdenke is waarmee jy dink. 2Sy krag ontken en weerspreek jou swakheid. 3Dit is jou swakheid wat deur die liggaam se oë kyk, en in die duisternis rondloer op soek na sy ewebeeld: die kleines, die swakkes, die siekes en sterwendes, die noodlydendes, die hulpeloses en bevreesdes, die bedroefdes, die armes en die vreugdeloses. 4Dit word gesien deur oë wat nie kan sien nie, en wat nie kan seën nie.

4. Krag sien hierdie dinge nie raak nie deur verby die misleidende uiterlikhede te kyk. 2Dit hou ’n standvastige blik op die lig wat daaragter lê. 3Dit verenig met lig, waarvan dit ’n deel uitmaak. 4Krag sien homself. 5Krag bring die lig waarin jou Self verskyn. 6In die duisternis sien jy ’n self wat nie daar is nie. 7Krag is die waarheid oor jou; swakheid is ’n afgod wat valslik aanbid en verheerlik word sodat die krag verdryf kan word, en sodat duisternis kan heers waar God bepaal het daar lig moet wees.

5. Krag spruit uit waarheid, en straal die lig uit wat sy Bron hom gegee het; swakheid weerspieël die duisternis van sy maker. 2Swakheid is siek en hou die oog op siekte wat soos hyself is. 3Waarheid is ’n verlosser en kan slegs geluk en vrede vir elkeen wil. 4Waarheid verskaf die krag daarvan aan elkeen wat vra, in voorsiening sonder grense. 5Waarheid sien dat ’n tekort in een ’n tekort in almal sal wees. 6En so verskaf dit lig dat almal kan sien en as één baat kan vind. 7Die krag daarvan word gedeel, sodat dit aan almal die wonder kan bring waarbinne hulle sal verenig in doel en vergifnis en liefde.

6. Swakheid, wat in die duisternis kyk, kan nie ’n doel in vergifnis en liefde sien nie. 2Hy sien al die ander as anders as hyself, en niks in die wêreld wat hy sou wil deel nie. 3Hy oordeel en veroordeel, maar het nie lief nie. 4Hy bly in die duisternis om homself te verberg, en droom dat hy sterk en seëvierend is, ’n oorwinnaar van beperkings wat net in die duisternis enorme gestalte kan kry.

7. Swakheid is bang en val aan en haat homself, en duisternis omhul alles wat hy sien, en maak sy drome net so angswekkend soos hyself. 2Hier is geen wonders nie, maar slegs haat. 3Dit skei hom van wat hy sien, terwyl lig en krag hulleself as één waarneem. 4Die lig van krag is nie die lig wat jy sien nie. 5Dit verander en flikker nie en dit gaan nie dood nie. 6Dit wissel nie van nag na dag en weer terug na die duisternis tot die oggend weer aanbreek nie.

8. Die lig van krag is konstant, so seker soos die liefde, altyd bly om homself weg te gee, want hy kan aan niks anders as homself gee nie. 2Niemand kan vergeefs vra om sy sig te deel nie, en niemand wat sy tuiste binnegaan, kan dit verlaat sonder ’n wonder voor sy oë, en sonder dat daar krag en lig in sy hart woon nie.

9. Die krag in jou sal jou die lig skenk, en jou sig so rig en lei dat jy nie tyd sal mors met nuttelose skaduwees wat die oë van die liggaam aan jou verskaf vir selfmisleiding nie. 2Krag en lig verenig in jou, en waar hulle ontmoet, staan jou Self gereed om jou as Sy Eie te omhels. 3En dit is die ontmoetingsplek wat ons vandag probeer vind om daar te rus, want die vrede van God is waar jou Self, Sy Seun, nou wag om Homself weer te ontmoet, en één te wees.

10. Laat ons vandag twee keer twintig minute daaraan wy, om aan hierdie ontmoeting deel te neem. 2Laat jouself na jou Self gebring word. 3Sy krag sal die lig wees wat deur die gawe van sig aan jou gegee word. 4Verlaat die duisternis dus vandag vir ’n klein rukkie, en ons sal oefen om die lig te sien, deur die liggaam se oë te sluit en die waarheid te vra om ons te wys hoe om die ontmoetingsplek van die self en die Self te vind, waar lig en krag één is.

11. In die oggend en in die aand sal ons so oefen. 2Na die oggend se ontmoeting sal ons die dag gebruik as voorbereiding vir dié tyd in die aand wanneer ons weer in vertroue sal ontmoet. 3Laat ons vandag se idee so dikwels as moontlik herhaal, en besef dat ons aan ware sien bekend gestel word, en van die duisternis na die lig weggevoer word waar alleenlik wonders waargeneem kan word.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 92: Miracles are seen in light, and light and strength are one. (ACIM, W-92)

Les 91 – Wonders word in die lig gesien.

1. Dit is belangrik om te onthou dat wonders en visie noodwendig saamgaan. 2Dit moet herhaal word, en telkens nogeens herhaal word. 3Dit is ’n sentrale idee in jou nuwe denksisteem, en in die persepsie wat dit voortbring. 4Die wonder is altyd daar. 5Sy teenwoordigheid word nie veroorsaak deur jou visie nie; sy afwesigheid is nie die gevolg van jou onvermoë om te sien nie. 6Dit is alleenlik jou bewustheid van wonders wat beïnvloed word. 7Jy sal hulle in die lig sien; jy sal hulle nie in die donker sien nie.

2. Vir jou is lig dus van deurslaggewende belang. 2Solank jy in die duister bly, bly die wonder onsigbaar. 3Derhalwe is jy daarvan oortuig dat dit nie daar is nie. 4Vanuit hierdie veronderstelling spruit die konsep van duisternis. 5’n Ontkenning van die lig gee aanleiding tot ’n onvermoë om dit waar te neem. 6’n Onvermoë om lig waar te neem, beteken om duisternis waar te neem. 7Die lig is dan vir jou nutteloos, al is dit ook daar. 8Jy kan dit nie benut nie, want die teenwoordigheid daarvan is vir jou onbekend. 9En die oënskynlike werklikheid van die duisternis maak die idee van lig betekenisloos.

3. Om vertel te word dat wat jy nie sien nie wel daar is, klink soos waansin. 2Dit is nogal moeilik om oortuig te raak dat dit waansin is om nie te sien wat daar is nie, en om in plaas daarvan te sien wat nie daar is nie. 3Jy twyfel nie daaroor dat die liggaam se oë kan sien nie. 4Jy twyfel nie daaroor dat die beelde wat hulle jou wys die werklikheid is nie. 5Jy stel jou vertroue in die duisternis, nie in die lig nie. 6Hoe kan dit omgekeer word? 7Vir jou is dit onmoontlik, maar jy is nie alleen hierin nie.

4. Jou pogings, hoe gering hulle ook al mag wees, word kragtig ondersteun. 2As jy maar besef hoe groot hierdie krag is, sal jou twyfel verdwyn. 3Ons gaan onsself vandag daaraan toewy om te probeer om jou hierdie krag te laat voel. 4Wanneer jy die krag wat alle wonders maklik binne jou bereik bring in jou gevoel het, sal jy nie twyfel nie. 5Die wonders, wat deur jou gevoel van swakheid verberg word, sal in jou bewussyn opduik sodra jy die krag in jou voel.

5. Sit vandag drie keer ongeveer tien minute opsy vir ’n stil tydjie waartydens jy probeer om jou swakheid agter jou te laat. 2Dit word heel eenvoudig bereik as jy jouself leer dat jy nie ’n liggaam is nie. 3Jy laat jou vertroue uitgaan na wat jy wil, en jy gee jou geestesdenke dienooreenkomstig opdrag. 4Jou wil bly jou onderwyser, en jou wil beskik oor al die krag om te doen wat dit begeer. 5Jy kan aan die liggaam ontsnap as jy dit so verkies. 6Jy kan die krag in jou ervaar.

6. Begin die langer oefenperiodes met die volgende formulering van werklike oorsaak-en-gevolgverhoudings:

2Wonders word in die lig gesien.

3Die liggaam se oë neem nie die lig waar nie.

4Maar ek is nie ’n liggaam nie. 5Wat is ek?

6Die vraag waarmee hierdie formulering eindig, staan sentraal vir ons oefeninge vandag. 7Wat jy dink jy is, is ’n oortuiging wat ongedaan gemaak moet word. 8Maar wat jy werklik is, moet aan jou geopenbaar word. 9Die oortuigings dat jy ’n liggaam is, vra om korreksie, omdat dit ’n fout is. 10Die waarheid oor wat jy is, doen ’n beroep op die krag in jou om jou bewus te maak van wat deur die fout verberg word.

7. As jy nie ’n liggaam is nie, wat is jy? 2Jy moet bewus wees van wat die Heilige Gees doen om die beeld van ’n liggaam in jou geestesdenke te vervang. 3Jy benodig iets waarin jy jou vertroue kan stel op daardie oomblik wanneer jy jou liggaam as identiteit opgee. 4Jy het ’n egte ervaring van iets anders nodig, iets meer solied en seker; iets wat jou vertroue meer waardig is, en iets wat werklik aanwesig is.

8. As jy nie ’n liggaam is nie, wat is jy dan? 2Vra dit in alle opregtheid en wy dan ’n paar minute daaraan om jou verkeerde gedagtes oor jou eienskappe te laat korrigeer en deur hulle teenoorgesteldes vervang te laat word. 3Sê byvoorbeeld:

4Ek is nie swak nie, maar sterk.

5Ek is nie hulpeloos nie, maar deur en deur kragtig.

6Ek is nie beperk nie, maar onbeperk.

7Ek ken geen twyfel nie, maar ek is seker.

8Ek is geen illusie nie, maar werklikheid.

9Ek kan nie in die duisternis sien nie, maar wel in die lig.

9. Probeer in die tweede fase van die oefenperiode om hierdie waarhede oor jouself te ervaar. 2Konsentreer veral op die ervaring van krag. 3Onthou dat alle gevoel van swakheid geassosieer word met die oortuiging dat jy ’n liggaam is, ’n oortuiging wat foutief is en geen vertroue verdien nie. 4Probeer om jou geloof daarin uit die weg te ruim, al is dit net vir ’n oomblik. 5Jy sal daaraan gewoond raak om soos ons voortgaan getrou te bly aan dit wat waardevoller in jou is.

10. Ontspan vir die res van die oefenperiode, vol vertroue dat jou pogings, hoe power ook al, volkome deur die krag van God en al Sy Gedagtes ondersteun word. 2Jou krag sal van Hulle kom. 3Deur Hulle sterk ondersteuning sal jy die krag in jou voel. 4Hulle is in hierdie oefenperiode met jou verenig, waarin jy ’n doel soos Hulle s’n deel. 5Dit is in Hulle lig dat jy wonders sal sien, want Hulle krag is joune. 6Hulle krag word jou oë, sodat jy kan sien.

11. Herinner jouself vyf of ses keer per uur, met redelik gereelde tussenposes daaraan dat wonders in die lig gesien word. 2Maak ook seker dat jy versoekings tegemoetgaan met vandag se idee. 3Die volgende vorm sal nuttig wees vir hierdie spesiale doel:

 4Wonders word in die lig gesien. 5Laat ek nie my oë vanweë versoekings sluit nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 91: Miracles are seen in light. (ACIM, W-91)

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑