1. Jy is geregtig op wonders op grond van wat jy is. 2Jy sal wonders ontvang op grond van wat God is. 3En jy sal wonders aanbied omdat jy één met God is. 4Nogmaals: hoe eenvoudig is verlossing nie! 5Dit is bloot ’n verklaring van jou ware Identiteit. 6Dit is wat ons vandag gaan vier.
2. Jou aanspraak op wonders lê nie in jou illusies oor jouself nie. 2Dit is nie afhanklik van enige magiese kragte wat jy aan jouself toegeken het, of enige van die rituele wat jy uitgedink het nie. 3Dit is inherent aan die waarheid van wat jy is. 4Dit lê ingeslote in wat God jou Vader is. 5Dit is verseker met jou skepping en is gewaarborg deur die wette van God.
3. Vandag sal ons aanspraak maak op die wonders wat jou reg is, aangesien dit aan jou behoort. 2Jy is volledige bevryding belowe van die wêreld wat jy gemaak het. 3Jy is daarvan verseker dat die Koninkryk van God binne-in jou is, en nooit verlore kan raak nie. 4Ons vra niks meer as wat in waarheid aan ons behoort nie. 5Vandag sal ons egter ook seker maak dat ons ons nie met minder tevrede sal stel nie.
4. Begin die langer oefenperiodes deur vol vertroue vir jouself te sê dat jy geregtig op wonders is. 2Herinner jouself daaraan, terwyl jy jou oë sluit, dat jy slegs vra wat regmatig joune is. 3Herinner jouself ook daaraan dat wonders nooit van die een afgeneem en aan ’n ander gegee word nie, en deur om jou regte te vra, jy almal se regte handhaaf. 4Wonders gehoorsaam nie die wette van hierdie wêreld nie. 5Hulle volg enkel en alleen uit die wette van God.
5. Wag na hierdie kort inleidingsfase rustig op die versekering dat daar aan jou versoek voldoen is. 2Jy het gevra om die verlossing van die wêreld, en jou eie. 3Jy het gevra dat die middele jou verskaf sal word waarmee dit uitgevoer kan word. 4Jy kan nie anders as om hiervan verseker te word nie. 5Jy vra slegs dat die Wil van God geskied.
6. Deur dit te doen, vra jy nie werklik enigiets nie. 2Jy stel ’n feit wat nie ontken kan word nie. 3Die Heilige Gees kan nie anders as om jou te verseker dat jou versoek toegestaan is nie. 4Die feit dat jy dit aanvaar, moet so wees. 5Daar is vandag geen plek vir twyfel en onsekerheid meer nie. 6Uiteindelik vra ons ’n werklike vraag. 7Die antwoord is ’n eenvoudige verklaring van ’n eenvoudige feit. 8Jy sal die versekering wat jy soek, kry.
7. Ons korter oefenperiodes sal dikwels plaasvind, en ook daaraan gewy word om ’n eenvoudige feit te onthou. 2Sê vandag dikwels vir jouself:
3Ek is geregtig op wonders.
4Vra vir wonders wanneer daar ook al ’n situasie ontstaan waarin hulle verlang word. 5Jy sal hierdie situasies herken. 6En aangesien jy nie op jouself staatmaak om die wonder te kry nie, is jy ten volle geregtig daarop om dit te ontvang wanneer jy ook al vra.
8. Onthou ook om nie met minder as die volmaakte antwoord tevrede te wees nie. 2Wanneer jy in die versoeking kom, sê vinnig vir jouself:
3Ek sal nie wonders verruil vir griewe nie. 4Ek wil slegs hê wat aan my behoort. 5God het bepaal dat wonders my reg is.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 77: I am entitled to miracles. (ACIM, W-77)



