Etiket: geestelike praktyk

Les 43 – God is my Bron. Los van Hom kan ek nie sien nie.

1. Persepsie is nie ’n eienskap van God nie. 2Aan Hom behoort die koninkryk van kennis. 3Maar Hy het die Heilige Gees geskep as die Middelaar tussen persepsie en kennis. 4Sonder hierdie skakel met God sou persepsie vir ewig die plek van kennis in jou geestesdenke ingeneem het. 5Met hierdie skakel met God sal persepsie so verander en gesuiwer word dat dit na kennis lei. 6Dit is sy funksie soos die Heilige Gees dit sien. 7Daarom is dit in waarheid sy funksie.

2. In God kan jy nie sien nie. 2Persepsie het nie ’n funksie in God nie en bestaan nie. 3Maar in verlossing, wat die ongedaanmaking behels van wat nooit was nie, het persepsie ’n grootse doel. 4Deur die Seun van God vir ’n onheilige doel gemaak, moet dit die middel word waarmee hy weer van sy heiligheid bewus word. 5Persepsie het geen betekenis nie. 6Nogtans gee die Heilige Gees ’n betekenis daaraan wat baie na aan die betekenis van God Self is. 7Geneesde persepsie word die middel waardeur die Seun van God sy broer en dus homself vergewe.

3. Los van God kan jy nie sien nie, want jy kan nie los van God bestaan nie. 2Wat jy ook al doen, doen jy in Hom, want wat jy ook al dink, dink jy met Sy Geestesdenke. 3As visie werklik is, en dit is slegs werklik in die mate waarin dit die Heilige Gees se doel deel, kan jy nie apart van God sien nie.

4. Drie oefenperiodes van vyf minute elk word vandag benodig, een so vroeg moontlik en die ander so laat moontlik in die dag. 2Die derde een kan onderneem word op die gunstigste en geskikste tyd binne jou omstandighede en gereedheid. 3Herhaal die idee vir die dag aan jouself met oop oë aan die begin van hierdie oefenperiodes. 4Kyk dan vir ’n kort rukkie om jou heen terwyl jy die idee spesifiek op wat jy sien, toepas. 5Vier of vyf onderwerpe vir hierdie fase van die oefenperiode is voldoende. 6Jy kan byvoorbeeld sê:

              7God is my Bron. 8Ek kan nie hierdie lessenaar los van hom sien nie.

              9God is my Bron. 10Ek kan nie daardie skildery los van hom sien nie.

5. Alhoewel hierdie deel van die oefening relatief kort moet wees, moet jy seker maak dat jy die onderwerpe vir hierdie oefenfase willekeurig kies, sonder dat jy self besluit wat jy in- of uitsluit. 2Vir die tweede en langer fase moet jy jou oë sluit, vandag se idee weer herhaal en dan alle relevante gedagtes wat by jou opkom, op jou eie persoonlike manier by die idee voeg. 3Gedagtes soos:

            4Ek sien deur oë van vergifnis.

              5Ek sien die wêreld as geseënd.

              6Die wêreld kan my myself laat sien.

              7Ek sien my eie gedagtes, wat soos die Gedagtes van God Self is.

8Enige gedagte wat min of meer aan vandag se idee verwant is, is geskik. 9Die gedagtes hoef nie ’n duidelike verwantskap met die idee te hê nie, maar hulle moet nie daarmee in stryd wees nie.

6. As jy vind dat jou geestesdenke afdwaal, as jy begin bewus word van gedagtes wat duidelik nie met vandag se idee verband hou nie, of as dit voorkom of jy aan niks kan dink nie, maak dan jou oë oop, herhaal die eerste fase van die oefenperiode en probeer dan weer die tweede fase. 2Moenie ’n lang uitgerekte periode waartydens jy behep raak met onverwante gedagtes, toelaat nie. 3Keer so dikwels as wat nodig is na die eerste fase van die oefeninge terug om dit te voorkom.

7. By die toepassing van vandag se idee in die korter oefenperiodes, kan die vorm varieer volgens die omstandighede en situasies waarin jy jouself gedurende die dag bevind. 2As jy byvoorbeeld saam met iemand anders is, probeer onthou om saggies vir hom te sê:

              3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek jou nie sien nie.

5Hierdie vorm is net so van toepassing op vreemdelinge as wat dit is op diegene wat jy dink nader aan jou is. 6Probeer trouens om hoegenaamd geen onderskeidings van hierdie aard te maak nie.

8. Vandag se idee behoort ook die hele dag deur toegepas te word op verskillende situasies en gebeure wat mag voorkom, veral op dié wat skyn om jou op een of ander manier te ontstel. 2Pas die idee vir hierdie doel in hierdie vorm toe:

            3God is my Bron. 4Los van Hom kan ek dit nie sien nie.

9. As geen spesifieke onderwerp op ’n gegewe tyd by jou opkom nie, herhaal bloot die idee in sy oorspronklike vorm. 2Probeer vandag om nie enige lang tye te laat verby gaan sonder om aan die idee van die dag en dus aan jou funksie te dink nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 43: God is my Source. I cannot see apart from Him. (ACIM, W-43)

Les 13 – ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

1. Vandag se idee is in werklikheid net ’n ander vorm van die vorige een, behalwe dat dit meer spesifiek is oor die emosie wat opgewek word. 2’n Betekenislose wêreld is eintlik onmoontlik. 3Daar bestaan niks sonder betekenis nie. 4Dit beteken egter nie dat jy nie sal dink dat jy iets waarneem wat nie betekenis het nie. 5Jy sal, inteendeel, hoogswaarskynlik dink dat jy dit wel waarneem.

2. Die herkenning van betekenisloosheid ontlok intense angs in alle geskeide mense. 2Dit verteenwoordig ’n situasie waar God en die ego mekaar “uitdaag” oor wie se betekenis in die oop spasie geskryf moet word wat die betekenisloosheid veroorsaak. 3Die ego storm rasend in om ten alle koste sy eie idees daar neer te plak, bang dat die leegte andersins gebruik sal word om sy eie onvermoë en onwerklikheid te bewys. 4En slegs in hierdie opsig is hy korrek.

3. Dit is daarom noodsaaklik dat jy leer om die betekenislose te herken en sonder vrees te aanvaar. 2As jy bang is, sal jy sekerlik eienskappe aan die wêreld toeken waaroor dit nie beskik nie en dit met beelde en voorstellings vul wat nie bestaan nie. 3Vir die ego is illusies veiligheidsmaatreëls, soos hulle heelwaarskynlik vir jou ook sal wees wat jouself met die ego gelykstel.

4 Vandag se oefeninge wat ongeveer drie of vier keer gedoen moet word vir nie langer as ’n minuut of wat op ’n keer nie, moet op ’n ietwat ander manier as die voriges toegepas word. 2Herhaal vandag se idee vir jouself met geslote oë. 3Maak dan jou oë oop, kyk stadig om jou heen terwyl jy sê:

              4Ek kyk na ’n betekenislose wêreld.

5Herhaal hierdie stelling vir jouself soos jy rondkyk. 6Maak dan jou oë toe en sluit af met:

              7’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees, omdat ek dink dat ek met God             meeding .

5. Jy mag dit moeilik vind om nie weerstand van een of ander aard op hierdie laaste uitspraak te ervaar nie. 2Ongeag watter vorm hierdie weerstand ook al mag aanneem, moet jy jouself daaraan herinner dat jy in werklikheid vir so ’n gedagte bang is vanweë die “wraak” van die “vyand.” 3Daar word nie van jou verwag om die uitspraak op hierdie stadium te glo nie, en jy sal dit heelwaarskynlik as absurd van die hand wys. 4Let egter versigtig op enige tekens van verbloemde of onverbloemde vrese wat dit mag opwek.

6. Dit is ons eerste poging tot die uitspreek van ’n eksplisiete oorsaak-en-gevolgverhouding, en wel van ’n soort wat jy nog uiters moeilik vind om te herken. 2Moenie stilstaan by die slotuitspraak nie, en probeer om nie eers daaraan te dink nie, behalwe tydens die oefenperiodes. 3Dit sal op hierdie stadium voldoende wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 13: A meaningless world engenders fear. (ACIM, W-13)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs