Etiket: geestelike ontwaking

Les 21 – Ek is vasbeslote om dinge anders te sien.

1. Vandag se idee is vanselfsprekend ’n voortsetting en uitbreiding van die vorige een. 2Hierdie keer is spesifieke tye, buiten en behalwe die toepassing van die idee wanneer spesifieke situasies mag opduik, egter nodig vir die ondersoek van jou geestesdenke. 3Daar word vyf oefenperiodes, van ’n minuut elk, aangeraai.

2. Begin die oefenperiodes deur die idee vir jouself te herhaal. 2Maak dan jou oë toe en soek in jou geestesdenke sorgvuldig na situasies in die verlede, hede of toekoms wat jou kwaad gemaak het. 3Die kwaadwees kan die vorm aanneem van enige reaksie wat wissel van ligte irritasie tot woede. 4Die intensiteit van die emosie wat jy ervaar, maak egter nie saak nie.5Jy sal toenemend daarvan bewus word dat ’n ligte stekie ergernis niks anders as ’n sluier oor intense woede is nie.

3. Probeer dus tydens die oefenperiodes keer dat die “klein” gedagtetjies van kwaadwees nie jou aandag ontsnap nie. 2Onthou dat jy nie werklik dít wat jou kwaad maak, insien nie en dat niks wat jy in hierdie opsig glo enige betekenis het nie. 3Jy sal heelwaarskynlik geneig wees om langer by sommige situasies of persone stil te staan as by ander, op valse grond dat hulle meer “vanselfsprekend” is. 4Dit is nie so nie. 5Dit is bloot ’n voorbeeld van die oortuiging dat sommige vorme van aanval meer geregverdig is as ander.

4. Soos jy jou geestesdenke ondersoek vir al die maniere waarop aanvalsgedagtes hulle voordoen, hou elkeen vas in jou gedagtes terwyl jy vir jouself sê:

              2Ek is vasbeslote om __________ (naam van persoon) anders te sien.

              3Ek is vasbeslote om __________ (spesifiseer die situasie) anders te sien.

5. Probeer om so spesifiek as moontlik te wees. 2Jy mag byvoorbeeld jou gevoel van kwaadwees verkeerdelik op ’n spesifieke eienskap van ’n spesifieke persoon fokus, omdat jy glo dat die kwaadwees tot hierdie aspek beperk is. 3As jou persepsie aan die soort verdraaiings onderworpe is, sê dan:

            4Ek is vasbeslote om ___________ (spesifiseer die eienskap) in __________(naam van             persoon) anders te sien.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 21: I am determined to see things differently. (ACIM, W-21)

Les 16 – Ek het geen neutrale gedagtes nie.

1. Vandag se idee is die eerste stap om die oortuiging dat jou gedagtes geen gevolge het nie, uit die weg te ruim. 2Alles wat jy sien, is die resultaat van jou gedagtes. 3Daar bestaan geen uitsondering op hierdie feit nie. 4Gedagtes is nie groot of klein, sterk of swak nie. 5Hulle is bloot waar of onwaar. 6Dié wat waar is, skep na hulle eie beeld. 7Dié wat onwaar is, maak hulle s’n.

2. Geen enkele begrip weerspreek homself meer as dié een oor “ledige gedagtes” nie. 2Wat aanleiding gee tot die persepsie van ’n hele wêreld kan beswaarlik ledig genoem word. 3Elke gedagte wat jy het, dra by tot waarheid of illusie: óf dit brei die waarheid uit, óf dit vermenigvuldig illusies. 4Jy kan inderdaad niks vermenigvuldig nie, maar jy sal dit sodoende ook nie uitbrei nie.

3. Naas jou erkenning dat gedagtes nooit ledig is nie, is dit vir verlossing ook nodig dat jy erken dat elke gedagte wat jy het jou óf vrede óf oorlog besorg, óf liefde óf vrees. 2’n Neutrale resultaat is onmoontlik omdat ’n neutrale gedagte onmoontlik is. 3Daar bestaan so ’n groot versoeking om vreesgedagtes af te maak as onbelangrik, onbenullig en nie die moeite werd om jou oor te bekommer nie, dat dit noodsaaklik is dat jy insien dat hulle almal ewe destruktief, maar ewe onwerklik is. 4Ons sal hierdie idee in vele vorms oefen voordat jy dit regtig begryp.

4. Wanneer jy vandag se idee toepas, ondersoek jy jou geestesdenke eers vir ongeveer ’n minuut lank met geslote oë, en probeer bewustelik geen enkele “klein” gedagtetjie oor te slaan wat neig om die soektog te ontwyk nie. 2Dit is nogal moeilik totdat jy daaraan gewoond raak. 3Jy sal vind dat dit steeds vir jou moeilik is om nie tog ’n kunsmatige onderskeid te tref nie. 4Elke gedagte wat by jou opkom, afgesien van die waarde wat jy daaraan heg, is geskik om vandag se idee op toe te pas.

5. Herhaal tydens die oefenperiodes eers die idee vir jouself, en hou elke gedagte vas soos dit jou geestesdenke te binne skiet, terwyl jy vir jouself sê:

              2Hierdie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie.

              3Daardie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie.

4Gebruik vandag se idee soos gewoonlik, wanneer jy ook al bewus word van ’n spesifieke gedagte wat ongemak veroorsaak. 5Die volgende vorm word voorgestel vir hierdie doel:

            6Hierdie gedagte oor __________ is nie ’n neutrale gedagte nie, want ek het nie             neutrale gedagtes nie.

6. Vier of vyf oefenperiodes word aanbeveel, as jy hulle relatief maklik vind. 2As spanning ervaar word, sal drie genoeg wees. 3Die lengte van die oefenperiode behoort ook verminder te word as daar ongemak voorkom.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 16: I have no neutral thoughts. (ACIM, W-16)

Les 13 – ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

1. Vandag se idee is in werklikheid net ’n ander vorm van die vorige een, behalwe dat dit meer spesifiek is oor die emosie wat opgewek word. 2’n Betekenislose wêreld is eintlik onmoontlik. 3Daar bestaan niks sonder betekenis nie. 4Dit beteken egter nie dat jy nie sal dink dat jy iets waarneem wat nie betekenis het nie. 5Jy sal, inteendeel, hoogswaarskynlik dink dat jy dit wel waarneem.

2. Die herkenning van betekenisloosheid ontlok intense angs in alle geskeide mense. 2Dit verteenwoordig ’n situasie waar God en die ego mekaar “uitdaag” oor wie se betekenis in die oop spasie geskryf moet word wat die betekenisloosheid veroorsaak. 3Die ego storm rasend in om ten alle koste sy eie idees daar neer te plak, bang dat die leegte andersins gebruik sal word om sy eie onvermoë en onwerklikheid te bewys. 4En slegs in hierdie opsig is hy korrek.

3. Dit is daarom noodsaaklik dat jy leer om die betekenislose te herken en sonder vrees te aanvaar. 2As jy bang is, sal jy sekerlik eienskappe aan die wêreld toeken waaroor dit nie beskik nie en dit met beelde en voorstellings vul wat nie bestaan nie. 3Vir die ego is illusies veiligheidsmaatreëls, soos hulle heelwaarskynlik vir jou ook sal wees wat jouself met die ego gelykstel.

4 Vandag se oefeninge wat ongeveer drie of vier keer gedoen moet word vir nie langer as ’n minuut of wat op ’n keer nie, moet op ’n ietwat ander manier as die voriges toegepas word. 2Herhaal vandag se idee vir jouself met geslote oë. 3Maak dan jou oë oop, kyk stadig om jou heen terwyl jy sê:

              4Ek kyk na ’n betekenislose wêreld.

5Herhaal hierdie stelling vir jouself soos jy rondkyk. 6Maak dan jou oë toe en sluit af met:

              7’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees, omdat ek dink dat ek met God             meeding .

5. Jy mag dit moeilik vind om nie weerstand van een of ander aard op hierdie laaste uitspraak te ervaar nie. 2Ongeag watter vorm hierdie weerstand ook al mag aanneem, moet jy jouself daaraan herinner dat jy in werklikheid vir so ’n gedagte bang is vanweë die “wraak” van die “vyand.” 3Daar word nie van jou verwag om die uitspraak op hierdie stadium te glo nie, en jy sal dit heelwaarskynlik as absurd van die hand wys. 4Let egter versigtig op enige tekens van verbloemde of onverbloemde vrese wat dit mag opwek.

6. Dit is ons eerste poging tot die uitspreek van ’n eksplisiete oorsaak-en-gevolgverhouding, en wel van ’n soort wat jy nog uiters moeilik vind om te herken. 2Moenie stilstaan by die slotuitspraak nie, en probeer om nie eers daaraan te dink nie, behalwe tydens die oefenperiodes. 3Dit sal op hierdie stadium voldoende wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 13: A meaningless world engenders fear. (ACIM, W-13)

Les 9 – Ek sien niks soos dit nou is nie.

1. Hierdie idee volg baie duidelik uit die twee voriges. 2Maar alhoewel jy dit miskien intellektueel kan aanvaar, is dit onwaarskynlik dat dit nou al iets vir jou sal beteken. 3Begrip is egter nie op die oomblik nodig nie. 4In werklikheid is die erkenning dat jy nie begryp nie ’n voorvereiste om jou vals idees ongedaan te maak. 5Dit gaan in hierdie oefeninge oor beoefening, nie oor begrip nie. 6Jy hoef nie te oefen wat jy alreeds begryp nie. 7Jy sou trouens heel onlogies wees as jy sou mik na begrip, en terselfdertyd aanneem dat jy reeds daaroor beskik.

2. Dit is moeilik vir ongeoefende geestesdenke om te glo dat dit wat hy hom dan so duidelik verbeel, nie daar is nie. 2Hierdie idee kan nogal verontrustend wees en hewige weerstand ondervind, in velerlei vorm. 3Maar dit belet nie die toepassing daarvan nie. 4Niks meer word dan ook gevra van hierdie of enige ander oefeninge nie. 5Elke klein stappie sal ’n bietjie van die duisternis uit die weg ruim, en begrip sal uiteindelik elke hoekie in die geestesdenke, wat skoongemaak is van die puin wat dit verdonker het, kom verlig.

3. Hierdie oefeninge waarvoor drie of vier oefenperiodes voldoende is, behels om rondom jou te kyk en vandag se idee toe te pas op wat jy ook al sien, gedagtig aan die behoefte om dit willekeurig toe te pas, asook die noodsaaklike reël om niks opsetlik uit te sluit nie. 2Byvoorbeeld:

              3Ek sien nie hierdie tikmasjien soos dit nou is nie.

              4Ek sien nie hierdie telefoon soos dit nou is nie.

              5Ek sien nie hierdie arm soos dit nou is nie.

4. Begin met dinge wat naaste aan jou is, en verbreed dan jou veld na buite:

            2Ek sien nie daardie kapstok soos dit nou is nie.

              3Ek sien nie daardie deur soos dit nou is nie.

              4Ek sien nie daardie gesig soos dit nou is nie.

5. Dit word weer beklemtoon dat, alhoewel daar nie gepoog moet word om alles in te sluit nie, dit vermy moet word om iets opsetlik uit te sluit. 2Sorg dat jy eerlik met jouself is wanneer jy hierdie onderskeiding maak. 3Jy mag in die versoeking gestel word om dit te verdoesel.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 9: I see nothing as it is now. (ACIM, W-9)

Les 2 – Ek het aan elke ding wat ek in hierdie kamer sien, al die betekenis gegee wat dit vir my het.

Ek het aan elke ding wat ek in hierdie kamer

(in hierdie straat, uit hierdie venster, op hierdie plek)

sien, al die betekenis gegee wat dit vir my het.

1. Die oefeninge met hierdie idee is dieselfde as dié met die eerste een. 2Begin met die dinge wat naby jou is en pas die idee toe op enigiets waarop jou oog val. 3Brei dan die veld uit. 4Draai jou kop sodat jy alles aan weerskante kan sien. 5As dit moontlik is, draai jou om en pas die idee toe op dit wat agter jou was. 6Bly so willekeurig en so vry as moontlik in jou keuse van onderwerpe om die idee op toe te pas, moenie op enigiets spesifieks konsentreer nie en moenie probeer om alles wat jy in ’n gegewe area sien in te sluit nie, of jy sal spanning veroorsaak.

2. Kyk bloot gemaklik en redelik vinnig rondom jou heen en probeer vermy om volgens grootte, helderheid, kleur, of materiaal wat vir jou relatief belangrik mag wees, te kies. 2Neem die voorwerpe eenvoudig soos jy hulle sien. 3Probeer om die oefening ewe gemaklik op ’n liggaam of ’n knoop, ’n vlieg of ’n vloer, ’n arm of ’n appel, van toepassing te maak. 4Die enigste kriterium om die idee op iets toe te pas, is bloot dat jou oog daarop geval het. 5Moenie probeer om iets spesifieks in te sluit nie, maar maak seker dat ook niks spesifieks uitgesluit word nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 2 – I have given everything I see in this room [on this street, from this window, in this place] all the meaning that it has for me. (ACIM, W-2)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs