1. Hierdie idee is natuurlik die rede waarom jy slegs die verlede sien. 2Niemand sien werklik iets nie. 3Hy sien maar net sy gedagtes wat na buite geprojekteer word. 4Die geestesdenke se beheptheid met die verlede is die oorsaak van die verkeerde opvatting oor tyd waaronder jou waarneming ly. 5Jou geestesdenke kan nie die hede wat die enigste tyd wat daar is, begryp nie. 6Dit kan daarom nie tyd begryp nie, en kan in werklikheid niks begryp nie.
2. Die enigste volkome ware gedagte wat ’n mens oor die verlede kan hê, is dat dit nie hier is nie. 2Om dus hoegenaamd daaroor te dink, is om oor illusies te dink. 3Baie min mense besef wat dit nou eintlik behels of selfs beteken om ’n prentjie te vorm van die verlede of om die toekoms te antisipeer. 4Wanneer die geestesdenke dit doen, is dit in werklikheid leeg, want dit dink nie wesenlik oor iets nie.
3. Die doel met vandag se oefeninge is om te begin om jou geestesdenke te oefen om te sien wanneer dit in werklikheid glad nie dink nie. 2Solank gedagtelose idees jou geestesdenke in beslag neem, word die waarheid geblokkeer. 3Die eerste stap om die pad na visie te open, is die erkenning dat jou geestesdenke tot dusver bloot leeg was, eerder as om te bly glo dat dit met regte idees gevul is.
4. Vandag se oefeninge moet met geslote oë gedoen word. 2Dit is omdat jy in werklikheid niks kan sien nie en dit so makliker is om in te sien dat, ongeag van hoe duidelik jy jou ook al ’n gedagte mag voorstel, jy in der waarheid niks sien nie. 3Ondersoek jou geestesdenke vir die gewone minuut lank, maar met so min as moontlike insette van jou kant, en let bloot op die gedagtes wat jy daar vind. 4Benoem elkeen volgens die sentrale figuur of tema wat daarin voorkom, en gaan oor na die volgende een. 5Begin die oefenperiode deur te sê:
6Dit lyk of ek dink aan __________.
5. Benoem dan elke gedagte spesifiek, byvoorbeeld:
2Dit lyk of ek dink aan (naam van persoon), aan (naam van ’n objek), aan (naam van ’n emosie),
ensovoorts, en sluit dan die tyd van ondersoek van jou geestesdenke ten slotte af met:
3Maar my geestesdenke is behep met gedagtes uit die verlede.
6. Dit kan vier of vyf keer gedurende die dag gedoen word, tensy jy dit irriterend vind. 2As jy dit veeleisend vind, is drie of vier keer voldoende. 3Jy mag dit egter nuttig vind om jou irritasie, of enige emosie wat vandag se idee moontlik veroorsaak, in te sluit by hierdie ondersoek van jou geestesdenke.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 8: My mind is preoccupied with past thoughts. (ACIM, W-8)


