Ons idees vir hersiening is vandag:
1. (61) Ek is die lig van die wêreld.
2Hoe heilig is ek aan wie die funksie gegee is om die wêreld te verlig! 3Laat ek stil wees in die aangesig van my heiligheid. 4Laat my konflikte in die kalm lig daarvan verdwyn. 5Laat ek in die vrede daarvan onthou Wie ek is.
2. ’n Paar konkrete toepassingsvorme van die idee wanneer spesiale moeilikhede blyk op te duik, kan wees:
2Laat ek nie die lig van die wêreld in my verberg nie.
3Laat die lig van die wêreld deur hierdie verskyningsvorm skyn.
4Hierdie skaduwee sal voor die aangesig van die lig verdwyn.
3. (62) Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.
2Dit is deur my funksie te aanvaar dat ek die lig in my sal sien. 3En in hierdie lig sal ek my funksie duidelik en volkome ondubbelsinnig sien en begryp. 4My aanvaarding is nie afhanklik daarvan of ek insien wat my funksie is nie, want ek begryp nog nie vergifnis nie. 5Nogtans sal ek vertrou dat ek dit in die lig sal sien soos dit is.
4. Spesifieke vorms om die idee te gebruik, mag insluit:
2Laat dit my help om te leer wat vergifnis beteken.
3Laat ek nie my funksie skei van my wil nie.
4Ek sal dit nie vir ’n vreemde doel gebruik nie.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 81: Review (61-62). (ACIM, W-81)



