1. Ons was tot dusver redelik vry en ongedwonge betreffende ons oefenperiodes. 2Daar is feitlik geen poging aangewend om die tyd te beheer om hulle uit te voer nie, ’n minimum inspanning is vereis, en selfs nie eens aktiewe samewerking en belangstelling is gevra nie. 3Hierdie benadering was opsetlik en baie sorgvuldig beplan. 4Ons het nie die dwingende belangrikheid van die ommekeer van jou denke uit die oog verloor nie. 5Die verlossing van die wêreld hang daarvan af. 6Maar solank jy sou voel dat jy onder dwang staan en daarom sou kon toegee aan wrewel en verset, sou jy nie sien nie.
2. Dit is dus nou die eerste keer dat moeite gedoen word om struktuur in te bring. 2Moet dit nie verkeerd opvat as ’n poging om dwang of druk uit te oefen nie. 3Jy wil verlossing hê. 4Jy wil gelukkig wees. 5Jy wil vrede hê. 6Jy beskik nie nou daaroor nie, want jou geestesdenke is totaal ongedissiplineerd, en jy kan nie tussen vreugde en verdriet, plesier en pyn, liefde en vrees onderskei nie. 7Jy leer nou hoe om hulle uit mekaar te ken. 8En jou loon sal voorwaar groot wees.
3. Al wat vir visie nodig is, is jou besluit om te sien. 2Wat jy wil hê, is joune. 3Moenie die geringe inspanning wat van jou gevra word, verkeerdelik opneem as ’n teken dat ons doel min waarde sou hê nie. 4Kan die verlossing van die wêreld ’n onbenullige doel wees? 5En kan die wêreld verlos word, as jy nie verlos word nie? 6God het één Seun, en hy is die opstanding en die lewe. 7Sy wil geskied, want aan hom is alle mag in die Hemel en op aarde gegee. 8In jou vasbeslotenheid om te sien, word visie aan jou gegee.
4. Die oefeninge vir vandag bestaan daaruit dat jy jou die hele tyd deur die dag daaraan herinner dat jy wil sien. 2Vandag se idee hou stilswyend die erkenning in dat jy nie nou sien nie. 3Soos jy dus vandag se idee herhaal, verklaar jy dat jy vasbeslote is om jou huidige toestand na ’n beter een te verander, en een wat jy regtig wil hê.
5. Herhaal vandag se idee stadig en positief ten minste twee keer per uur, en probeer om dit elke halfuur te doen. 2Moenie bekommerd raak as jy vergeet om dit te doen nie, maar wend regtig ’n poging aan om te onthou. 3Die ekstra herhalings moet toegepas word op elke situasie, persoon of gebeurtenis wat jou ontstel. 4Jy kan hulle anders sien, en jy sal ook. 5Wat jy verlang, sal jy sien. 6Dit is die werklike wet van oorsaak en gevolg, soos dit in die wêreld werk.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 20: I am determined to see. (ACIM, W-20)


