1. As jy gewillig is om jou probleme te sien, sal jy sien dat jy geen probleme het nie. 2Jou een kernprobleem is opgelos, en jy het geen ander nie. 3Daarom moet jy vrede hê. 4Verlossing hang dus daarvan af om hierdie één probleem te sien, en te begryp dat dit opgelos is. 5Één probleem, één oplossing. 6Verlossing is volbring. 7Vryheid van konflik is jou gegee. 8Aanvaar dié feit, en jy is gereed om jou regmatige plek in God se verlossingsplan in te neem.
2. Jou enigste probleem is opgelos! 2Herhaal dit vandag ’n paar keer vir jouself, met dankbaarheid en oortuiging. 3Jy het jou enigste probleem gesien, en die pad vir die Heilige Gees oopgemaak om jou God se antwoord te gee. 4Jy het misleiding opsy gesit, en die lig van die waarheid gesien. 5Jy het verlossing vir jouself aanvaar deur die probleem by die antwoord te bring. 6En jy kan die oplossing herken, want die probleem is geïdentifiseer.
3. Jy is vandag op vrede geregtig. 2’n Probleem wat opgelos is, kan jou nie kwel nie. 3Maak net seker dat jy nie vergeet dat alle probleme dieselfde is nie. 4Hulle vele vorms sal jou nie mislei as jy dít onthou nie. 5Één probleem, één oplossing. 6Aanvaar die vrede wat hierdie eenvoudige stelling bring.
4. In ons langer oefenperiodes sal ons vandag op die vrede aanspraak maak, dié vrede wat ook ons vrede moet wees as die probleem en die antwoord bymekaar gebring word. 2Die probleem moet weg wees, want God se antwoord kan nie faal nie. 3As jy die een gesien het, het jy ook die ander een gesien. 4Die oplossing is inherent aan die probleem. 5Jy word geantwoord, en het die antwoord aanvaar. 6Jy is verlos.
5. Laat die vrede wat jou aanvaarding meebring nou aan jou gegee word. 2Sluit jou oë, en ontvang jou beloning. 3Sien dat jou probleme opgelos is. 4Sien dat jy sonder konflik is: vry en in vrede. 5Onthou bowenal dat jy één probleem het, en dat die probleem één oplossing het. 7Juis hierin is die eenvoud van die verlossing geleë. 7Juis hierdeur is dit gewaarborg om te werk.
6. Verseker jouself vandag dikwels dat jou probleme opgelos is. 2Herhaal die idee met volle oortuiging, so dikwels as moontlik. 3En maak veral seker om vandag se idee toe te pas op enige spesifieke probleem wat mag opduik. 4Sê vinnig:
5Laat my sien dat hierdie probleem opgelos is.
7. Laat ons vasbeslote wees om nie vandag griewe op te gaar nie. 2Laat ons vasbeslote wees om vry te wees van probleme wat nie bestaan nie. 3Die middel behels eenvoudige eerlikheid. 4Moenie jouself om die bos lei oor wat die probleem is nie, en jy sal sekerlik sien dat dit opgelos is.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
Lesson 80: Let me recognize my problems have been solved. (ACIM, W-80)



