1. Vandag se idee kan beskou word as die sentrale gedagte waarop al ons oefeninge gerig word. 2God se Wil is die enigste Wil. 3Wanneer jy dit ingesien het, het jy ingesien dat jou wil Syne is. 4Die oortuiging dat konflik moontlik is, het verdwyn. 5Vrede het in die plek gekom van die vreemde idee dat jy deur teenstrydige doelstellings in twee geskeur is. 6As ’n uitdrukking van die Wil van God, het jy geen ander doel as Syne nie.

2. Daar lê diepe vrede in vandag se idee opgesluit, en vandag se oefeninge is daarop gerig om dit te vind. 2Die idee self is volkome waar. 3Dit kan dus nie tot illusies aanleiding gee nie. 4Sonder illusies is konflik onmoontlik. 5Laat ons probeer om dit vandag in te sien, en laat ons die vrede wat hierdie insig bring, ervaar.

3. Begin die langer oefenperiodes deur die volgende gedagtes ’n paar keer stadig te herhaal, vasberade om te begryp wat hulle beteken, en om hulle in gedagte te hou:

2Daar is geen ander wil as God se Wil nie. 3Ek kan nie in konflik wees nie.

4Bestee dan ’n paar minute om enkele verwante gedagtes by te voeg, soos:

5Ek het vrede.

6Niks kan my ontstel nie. 7My wil is God se Wil.

8My wil en God se Wil is één.

9God wil vrede vir Sy Seun.

10Maak seker om gedurende hierdie inleidingsfase enige konflikterende gedagtes wat deur jou geestesdenke gaan, vinnig te hanteer.11Sê onmiddellik vir jouself:

12Daar is geen ander wil as God se Wil nie. 13Hierdie konflikterende gedagtes is betekenisloos.

4. As daar ’n konflikgebied is wat besonder moeilik lyk om op te los, kies dit dan vir spesiale oorweging uit. 2Dink kortliks, maar baie spesifiek, daaroor na, identifiseer die betrokke persoon of persone en die situasie of situasies wat betrokke is, en sê vir jouself:

3Daar is geen ander wil as God se Wil nie. 4Ek deel dit met Hom.

5My konflikte oor __________ kan nie werklik wees nie.

5. Nadat jy jou gedagtes op hierdie wyse gesuiwer het, kan jy jou oë toemaak en die vrede probeer ervaar waarop jou werklikheid jou geregtig maak. 2Versink jou daarin en voel hoe dit jou omsluit. 3Die versoeking mag daar wees om hierdie pogings verkeerdelik as afsydigheid of onttrekking te sien, maar die verskil is maklik te bespeur. 4As jy suksesvol is, sal jy ’n diep gevoel van vreugde en toenemende geestelike wakkerheid ervaar, in plaas van ’n gevoel van sufheid en futloosheid.

6. Vreugde is die kenmerk van vrede. 2Deur hierdie ervaring sal jy weet dat jy dit bereik het. 3As jy voel dat jy weer versink in afsydigheid, herhaal vandag se idee vinnig en probeer weer. 4Doen dit so dikwels as wat nodig is. 5Jy sal beslis daarby baat as jy weier om op onttrekking of afsydigheid terug te val, selfs as jy nie die vrede ervaar wat jy soek nie.

7. Sê vir jouself tydens die korter oefenperiodes wat vandag op gereelde en voorafbepaalde tussenposes gedoen moet word:

2Daar is geen ander wil as God se Wil nie. 3Vandag soek ek Sy vrede.

4Probeer dan om te vind wat jy soek. 5Dit sou goed wees om vandag ’n minuut of twee elke halfuur, met geslote oë indien moontlik, hieraan te wy.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 74: There is no will but God’s. (ACIM, W-74)