1. Die belangrikheid van hierdie idee lê in die feit dat dit ’n korreksie bevat van ’n belangrike verdraaiing in jou persepsie. 2Jy dink dat dit ’n vreesaanjaende wêreld is wat jou ontstel, of ’n treurige wêreld, of ’n gewelddadige wêreld, of ’n kranksinnige wêreld. 3Jy het al hierdie eienskappe daaraan toegeken. 4Die wêreld is op sigself egter sonder betekenis.
2. Hierdie oefeninge word met oop oë gedoen. 2Kyk om jou heen, hierdie keer taamlik stadig. 3Probeer ’n tempo vind wat jou blik in ’n rustige en reëlmatige ritme van een ding na ’n ander kan laat gly. 4Moenie dat die tydsduur van die verskuiwing merkbaar langer of korter word nie, maar probeer liewer om deurlopend ’n afgemete gelykmatige tempo te handhaaf. 5Wat jy sien, maak nie saak nie. 6Dit leer jy jouself wanneer jy aan alles waarop jou blik ook al mag rus ewe veel aandag en ewe veel tyd gee. 7Dit is ’n eerste tree om te leer om aan alles gelyke waarde toe te ken.
3. Sê vir jouself, soos jy om jou rondkyk:
2Ek dink ek sien ’n angswekkende wêreld, ’n gevaarlike wêreld, ’n vyandige wêreld, ’n treurige wêreld, ’n bose wêreld, ’n mal wêreld,
ensovoorts, deur enige beskrywende terme te gebruik wat by jou mag opkom. 3As daar terme by jou opkom wat eerder positief as negatief lyk, sluit hulle in. 4Jy sou byvoorbeeld kon dink aan “’n goeie wêreld,” of “’n bevredigende wêreld.” 5As sulke terme by jou opkom, gebruik hulle saam met die res. 6Jy mag miskien nog nie begryp waarom hierdie “aangename” byvoeglike naamwoorde in hierdie oefeninge tuishoort nie, maar onthou dat ’n “goeie wêreld” ’n “slegte” een impliseer, en ’n “bevredigende wêreld” ’n “onbevredigende” een. 7Alle terme wat in jou geestesdenke opkom, is geskik as onderwerp vir vandag se oefeninge. 8Hulle oënskynlike kwaliteit maak nie saak nie.
4. Maak seker dat jy nie die tydsduur varieer wanneer jy vandag se idee toepas op wat jy dink aangenaam en wat jy dink onaangenaam is nie. 2Vir die doel van hierdie oefeninge is daar geen verskille tussen hulle nie. 3Voeg aan die einde van die oefenperiode by:
4Maar ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.
5. Wat betekenisloos is, is nie goed of sleg nie. 2Waarom sou ’n betekenislose wêreld jou dan ontstel? 3As jy die wêreld as betekenisloos sou kon aanvaar en toelaat dat die waarheid vir jou daarop geskrywe word, sou dit jou onbeskryflik gelukkig maak. 4Maar juis omdat dit betekenisloos is, voel jy genoodsaak om daarop te skryf wat jy wil hê dit moet wees. 5En dít is wat jy daarin sien. 6En dít is wat in waarheid geen betekenis het nie. 7Onder jou woorde staan die Woord van God geskrywe. 8Die waarheid ontstel jou nou, maar wanneer jou woorde uitgevee is, sal jy Syne sien. 9Dit is die uiteindelike doel van hierdie oefeninge.
6. Dit is genoeg om die idee vandag drie of vier keer te oefen. 2Die oefenperiodes moet ook nie langer as ’n minuut duur nie. 3Selfs dit mag jy te lank vind. 4Staak die oefeninge sodra jy ’n gevoel van spanning ervaar.
✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:
“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”
Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.
📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org
Lesson 12: I am upset because I see a meaningless world. (ACIM, W-12)


