Etiket: Christelike spiritualiteit

Les 72 – Om griewe te koester, is ’n aanval op God se plan vir verlossing.

1. Hoewel ons vasgestel het dat die ego se verlossingsplan die teenoorgestelde van God se verlossingsplan is, het ons nog nie beklemtoon dat dit ’n aktiewe aanval op Sy plan, en ’n doelbewuste poging om dit te vernietig, is nie. 2In die aanval word aan God eienskappe toegeken wat eintlik met die ego geassosieer word, terwyl die ego skyn om God se eienskappe aan te neem.

2. Die ego se fundamentele wens is om God se plek in te neem. 2Die ego is in werklikheid die fisiese beliggaming van daardie wens. 3Want dit is daardie wens wat lyk asof dit die geestesdenke met ’n liggaam beklee, wat dit apart en alleen hou, en nie in staat stel om ander se geestesdenke te bereik nie, behalwe deur die liggaam wat gemaak was om dit gevange te hou. 4Die beperking op kommunikasie kan nie die beste metode wees om kommunikasie uit te brei nie. 5Nogtans sal die ego jou wysmaak dat dit so is.

3. Al sou die pogings om die beperkings te handhaaf wat ’n liggaam probeer voorskryf hier glashelder wees, is dit miskien nie so duidelik waarom die koestering van griewe ’n aanval op God se plan vir verlossing is nie. 2Maar laat ons dan die soort dinge waaroor jy geneig is om griewe te koester, in oorweging neem. 3Word hulle nie altyd geassosieer met iets wat ’n liggaam doen nie? 4’n Persoon sê iets waarvan jy nie hou nie. 5Hy doen iets waarvan jy nie hou nie. 6Hy “verraai” sy vyandige gedagtes deur sy gedrag.

4. Dit gaan vir jou hier glad nie oor wat die persoon is nie. 2Inteendeel, jy is uitsluitlik besorgd oor wat hy in ’n liggaam doen. 3Jy doen alles behalwe om hom te help om hom van die liggaam se beperkinge te bevry. 4Jy is aktief besig om hom daaraan te bind deur hom daarmee te verwar, en deur hulle oor een kam te skeer. 5Hiermee word God aangeval, want as Sy Seun slegs ’n liggaam is, moet Hy ook so wees. 6’n Skepper wat heeltemal anders as sy skepping is, is ondenkbaar.

5. As God ’n liggaam is, wat moet Sy plan vir verlossing dan wees? 2Wat kan dit anders as die dood wees? 3Deur Homself te probeer voorstel as die Outeur van lewe en nie van dood nie, is Hy ’n leuenaar en bedrieër vol valse beloftes, wat illusies in plaas van die waarheid aanbied. 4Die liggaam se oënskynlike werklikheid maak hierdie siening van God heel oortuigend. 5Om die waarheid te sê, as die liggaam werklik sou wees, sou dit inderdaad moeilik wees om hierdie gevolgtrekking vry te spring. 6En elke grief wat jy koester, is ’n dwingende beklemtoning dat die liggaam werklik is. 7Dit ignoreer geheel en al wat jou broer is. 8Dit versterk jou geloof dat hy ’n liggaam is, en jy veroordeel hom daarvoor. 9Dit voer aan dat sy verlossing die dood moet wees, en projekteer hierdie aanval op God, en hou Hom daarvoor verantwoordelik.

6. Na hierdie goed voorbereide arena, waar kwaai diere hul prooi soek en geen genade geduld word nie, kom die ego nou om jou te red. 2God het jou ’n liggaam gemaak. 3Baie goed. 4Laat ons dit aanvaar en bly wees. 5Moenie jouself, as ’n liggaam, laat ontneem van wat die liggaam te bied het nie. 6Vat die bietjie wat jy kan kry. 7God het jou niks gegee nie. 8Die liggaam is jou enigste verlosser. 9Hy is God se dood en jou verlossing.

7. Dit is die universele geloof van die wêreld wat jy sien. 2Sommiges haat die liggaam en probeer hom seermaak en verneder. 3Ander het weer die liggaam lief, en probeer om hom te verheerlik en op te hemel. 4Maar solank die liggaam sentraal staan in jou konsep van jouself, is jy besig om God se plan vir verlossing aan te val en koester jy griewe teen Hom en Sy skepping, sodat jy nie die Stem van die waarheid kan hoor en Hom as Vriend kan verwelkom nie. 5Jou uitverkore verlosser het Sy plek ingeneem. 6Dit is jou vriend; Hy is jou vyand.

8. Ons sal vandag probeer om hierdie sinlose aanvalle op verlossing te staak. 2Ons sal in plaas daarvan probeer om verlossing te verwelkom. 3Jou onderstebo persepsie het die innerlike vrede geruïneer. 4Jy het jouself in ’n liggaam gesien, en die waarheid buite jou, uitgesluit van jou bewussyn deur die beperkinge van die liggaam. 5Nou gaan ons probeer om dit anders te sien.

9. Die lig van die waarheid is in ons, waar dit deur God geplaas was. 2Dit is die liggaam wat buite ons is, en wat nie van belang is nie. 3Om sonder ’n liggaam te wees, beteken om in ons natuurlike staat te wees. 4Om die lig van die waarheid in ons te herken, is om onsself soos ons is, te herken. 5Om ons Self as los van die liggaam te sien, beteken om die aanval op God se plan vir verlossing te staak en dit in plaas daarvan te aanvaar. 6En waar Sy plan ook al aanvaar word, is dit reeds volbring.

10. Ons doel tydens die langer oefenperiodes vandag is om daarvan bewus te word dat God se plan vir verlossing alreeds in ons volbring is. 2Om hierdie doel te bereik, moet ons aanval vervang met aanvaarding. 3Solank ons dit aanval, kan ons nie begryp wat God se plan vir ons is nie. 4Ons val dus aan wat ons nie herken nie. 5Nou gaan ons probeer om weg te doen met oordeel, en te vra wat God se plan vir ons is:

              6Wat is verlossing, Vader? 7Ek weet nie. 8Sê vir my, sodat ek kan begryp.

9Dan sal ons in stilte op Sy antwoord wag. 10Ons het God se plan vir verlossing aangeval sonder om te wag en te hoor wat dit is. 11Ons het ons griewe so hard uitgeskreeu dat ons nie na Sy stem geluister het nie. 12Ons het ons griewe gebruik om ons oë te sluit en ore toe te stop.

11. Nou sal ons sien en hoor en leer. 2“Wat is verlossing, Vader?” 3Vra en jy sal antwoord gegee word. 4Soek en jy sal vind. 5Ons vra nie meer die ego wat verlossing is nie en waar om dit te vind nie. 6Ons vra dit van die waarheid. 7Wees dus verseker dat die antwoord waar sal wees, op grond van Wie jy vra.

12. Elke keer as jy voel dat jou vertroue afneem en jou hoop op sukses kwyn en sterf, herhaal jou vraag en jou versoek, en onthou dat jy nou ’n vraag stel aan die oneindige Skepper van oneindigheid, Wat jou soos Homself geskep het:

              2Wat is verlossing, Vader? 3Ek weet nie. 4Sê vir my, sodat ek kan begryp.

5Hy sal antwoord. 6Wees vasbeslote om te hoor.

13. Een of miskien twee korter oefenperiodes elke uur sal vandag genoeg wees, omdat hulle ietwat langer as gewoonlik sal wees. 2Hierdie oefeninge moet begin met:

3Om griewe te koester, is ’n aanval op God se plan vir verlossing. 4Laat ek dit in plaas van griewe aanvaar. 5Wat is verlossing, Vader?

6Bly dan min of meer ’n minuut in stilte, verkieslik met geslote oë, en luister en wag op Sy antwoord.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 72: Holding grievances is an attack on God’s plan for salvation. (ACIM, W-72)

Les 62 – Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.

1. Dit is jou vergifnis wat die wêreld van duisternis na die lig sal bring. 2Dit is jou vergifnis wat jou die lig waarin jy sien, laat herken. 3Vergifnis is die demonstrasie dat jy die lig van die wêreld is. 4Deur jou vergifnis onthou jy weer die waarheid oor jouself. 5Daarom lê jou verlossing in jou vergifnis.

2. Illusies oor jouself en die wêreld is een en dieselfde. 2Dit is hoekom alle vergifnis ’n geskenk aan jouself is. 3Jou doel is om uit te vind wie jy is omdat jy jou Identiteit ontken het deur die skepping en sy Skepper aan te val. 4Nou leer jy hoe om die waarheid te onthou. 5Want hierdie aanval moet deur vergifnis vervang word, sodat gedagtes van die lewe gedagtes van die dood kan vervang.

3. Onthou dat jy met elke aanval ’n beroep doen op jou eie swakheid, terwyl jy met elke daad van vergifnis ’n beroep doen op die krag van Christus in jou. 2Begin jy dan nie begryp wat vergifnis vir jou kan beteken nie? 3Dit sal alle gevoel van swakheid, inspanning en vermoeidheid uit jou geestesdenke verwyder. 4Dit sal alle vrees en skuld en pyn verwyder. 5Dit sal jou opnuut bewus maak van die onkwetsbaarheid en krag wat God Sy Seun gegee het.

4. Laat ons bly wees om hierdie dag te begin en te eindig deur vandag se idee toe te pas en dit so dikwels as moontlik die hele dag deur te gebruik. 2Dit sal help om die dag vir jou so gelukkig te maak soos God wil hê jy moet wees. 3En dit sal diegene om jou, asook diegene wat in tyd en ruimte ver weg blyk te wees, help om hierdie geluk met jou te deel.

5. Sluit jou oë vandag, so dikwels as wat jy moontlik kan, en sê vir jouself:

              2Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.

              3Ek sal my funksie vervul, sodat ek gelukkig kan wees.

4Bestee dan ’n minuut of twee om oor jou funksie, en die geluk en bevryding wat dit jou sal bring, te dink. 5Laat verwante gedagtes vrylik opkom, want jou hart sal hierdie woorde herken, en in jou geestesdenke is die besef en bewustheid dat hulle waar is. 6As jou aandag sou afdwaal, herhaal die idee en voeg by:

            7Ek sal dit onthou, want ek wil gelukkig wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 62: Forgiveness is my function as the light of the world. (ACIM, W-62)

Les 61 – Ek is die lig van die wêreld.

1. Wie anders as God se Seun is die lig van die wêreld? 2Dit is dus bloot ’n verklaring van die waarheid oor jouself. 3Dit is die teenoorgestelde van ’n verklaring van trots, arrogansie of selfbedrog. 4Dit beskryf nie die selfkonsep wat jy gemaak het nie. 5Dit verwys nie na enige van die kenmerke wat jy jou afgode toebedeel het nie. 6Dit verwys na jou soos jy deur God geskep is. 7Dit stel eenvoudig die waarheid.

2. Vandag se idee is vir die ego die toppunt van selfverheerliking. 2Maar die ego begryp nie nederigheid nie en verwar dit met selfvernedering. 3Nederigheid bestaan uit die aanvaarding van jou rol in die verlossing en dat jy geen ander sal aanneem nie. 4Dit is nie nederigheid om daarop aan te dring dat jy nie die lig van die wêreld kan wees nie, as dit die funksie is wat God aan jou toegeken het. 5Dit is slegs arrogansie wat sou aanvoer dat hierdie funksie nie vir jou bestem kan wees nie, en arrogansie kom altyd van die ego.

3. Ware nederigheid vra dat jy vandag se idee aanvaar, want dit is God se Stem wat jou vertel dat dit waar is. 2Dit is ’n eerste tree om jou werklike funksie op aarde te aanvaar. 3Dit is ’n reuse-stap om jou regmatige plek in verlossing in te neem. 4Dit is ’n positiewe bevestiging van jou reg om verlos te word, en ’n erkenning van die mag wat aan jou gegee is om ander te verlos.

4. Jy sal so dikwels as moontlik vandag aan hierdie idee wil dink. 2Dit is die volmaakte antwoord op alle illusies, en daarom op alle versoekings. 3Dit bring al die beelde wat jy oor jouself gemaak het na die waarheid, en help jou om in vrede heen te gaan, bevry van alle laste en seker van jou doel.

5. Soveel oefenperiodes moontlik moet vandag onderneem word, alhoewel nie een langer as ’n minuut of twee hoef te wees nie. 2Begin hulle deur vir jouself te sê:

              3Ek is die lig van die wêreld. 4Dit is my enigste funksie.

              5Dit is waarom ek hier is.

6Dink dan vir ’n kort rukkie oor hierdie stellings, verkieslik met toe oë as omstandighede dit toelaat. 7Laat ’n paar verwante gedagtes by jou opkom en herhaal die idee vir jouself as jou gedagtes van die kerngedagte afdwaal.

6. Moenie vergeet om die dag met ’n oefenperiode te begin en te eindig nie. 2Op dié manier sal jy wakker word met ’n erkenning van die waarheid oor jouself, dit dwarsdeur die dag versterk, en gaan slaap met die herbevestiging van jou enigste funksie en doel hier. 3Hierdie twee oefenperiodes mag langer as die ander wees, as jy hulle nuttig vind en hulle wil uitbrei.

7. Vandag se idee gaan die ego se beuselagtige idees oor wat jy is en wat jou doel hier is, ver te bowe. 2Vir jou as die een wat verlossing bring, is dit duidelik noodsaaklik. 3Dit is die eerste van ’n aantal reuse-stappe wat ons in die volgende paar weke gaan neem. 4Probeer vandag om ’n stewige fondament vir hierdie opmars te begin bou. 5Jy is die lig van die wêreld. 6God het Sy plan vir die verlossing van Sy Seun op jou gebou.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 61: I am the light of the world. (ACIM, W-61)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs