1. Miskien is dit nog nie vir jou heeltemal duidelik dat elke besluit wat jy neem ’n keuse tussen ’n grief en ’n wonder is nie. 2Elke grief staan soos ’n donker skild van haat voor die wonder wat dit wil verberg. 3En soos jy die grief voor jou oë omhooghou, sal jy nie die wonder daaragter sien nie. 4Tog wag dit al die tyd vir jou in die lig, maar jy sien jou griewe in plaas van die wonder.

2. Vandag gaan ons verder as die griewe, om in plaas daarvan na die wonders te kyk. 2Ons sal die manier waarop jy kyk, omdraai deur nie toe te laat dat jou sig stop voordat dit sien nie. 3Ons sal nie voor die skild van haat bly wag nie, maar dit neerlê en rustig ons oë in stilte opslaan om die Seun van God te aanskou.

3. Hy wag op jou agter jou griewe, en soos jy hulle laat vaar, sal hy in ’n glinsterende lig verskyn oral waar elke grief voorheen gestaan het. 2Want iedere grief blokkeer jou sig en soos dit oplig, sien jy die Seun van God waar dit nog altyd was. 3Hy staan in die lig, maar jy was in die duister. 4Elke grief het die duisternis dieper gemaak, en jy kon nie sien nie.

4. Vandag sal ons probeer om God se Seun te sien. 2Ons sal nie toelaat dat ons blind vir hom sal wees nie; ons sal nie teen ons griewe vaskyk nie. 3So word die sien van die wêreld omgekeer, as ons uitkyk na die waarheid, en weg van die vrees. 4Ons sal een persoon kies wat jy as teiken vir jou griewe gebruik het, en die griewe opsy sit en na hom kyk. 5Iemand wat jy miskien vrees en selfs haat; iemand wat jy dink jy liefhet, maar wat jou kwaad gemaak het; iemand wat jy ’n vriend noem, maar wat jy by tye as moeilik sien of moeilik om tevrede te stel, veeleisend, irriterend of ontrou is aan die ideaal wat hy as syne moet aanvaar, ooreenkomstig die rol wat jý vir hom bepaal het.

5. Jy weet wie om te kies, sy naam het reeds deur jou gedagtes gegaan. 2Hy sal die een wees aan wie ons sal vra dat God se Seun aan jou getoon moet word. 3Deur hom agter die griewe te sien wat jy teen hom gehou het, sal jy leer dat wat versteek gelê het toe jy hom nie gesien het nie, in almal is en in almal gesien kan word. 4Hy wat ’n vyand was, is meer as ’n vriend wanneer hy bevry is om die heilige rol wat die Heilige Gees aan hom toegeken het, op hom te neem. 5Laat hy vandag jou verlosser wees. 6Dit is sy rol in die plan van God jou Vader.

6. In ons langer oefenperiodes sal ons hom vandag in hierdie rol sien. 2Probeer hom eers in jou gedagtes kry, soos jy nou oor hom dink. 3Kyk weer na sy foute, die moeilikheid wat jy met hom gehad het, die pyn wat hy jou veroorsaak het, sy versuim, en al die kleinere en grotere pyne wat hy veroorsaak het. 4Beskou ook sy liggaam met sy gebreke en sy sterkere punte, en dink aan sy foute en selfs sy “sondes”.

7. Laat ons Hom Wat hierdie Seun van God in sy werklikheid en waarheid ken, dan vra dat ons hom op ’n ander manier sien, en ons verlosser sien, stralend in die lig van ware vergifnis wat vir ons gegee is. 2Ons vra Hom in die heilige Naam van God en van Sy Seun, wat so heilig soos Hyself is:

3Laat ek my verlosser aanskou in hierdie een wat U aangewys het as die

 een wat ek moet vra om my na die heilige lig te lei waarin hy staan,

sodat ek by hom kan aansluit.

4Soos jy met geslote oë aan hom wat jou gegrief het dink, laat jou geestesdenke die lig getoon word wat daar in hom is en wat agter jou griewe skyn.

8. Waarvoor jy gevra het, kan nie geweier word nie. 2Jou verlosser het lank hiervoor gewag. 3Hy wil vry wees en sy vryheid joune maak. 4Die Heilige Gees buig van hom na jou toe oor en sien geen skeiding in God se Seun nie. 5En wat jy deur Hom sien, sal julle beide bevry. 6Wees nou baie stil en kyk na jou stralende verlosser. 7Geen donker griewe verberg sy sig nie. 8Jy het toegelaat dat die Heilige Gees deur hom uitdrukking gee aan die rol wat God Hom gegee het sodat jy verlos kan word.

9. God bedank jou vir hierdie stil oomblikke vandag waartydens jy jou waanbeelde opsy sit en in waarheid kyk na die wonder van liefde wat die Heilige Gees jou in hulle plek gewys het. 2Die wêreld en die Hemel sal jou saam bedank, want daar is nie een Gedagte van God wat hom nie sal verheug as jy, en die hele wêreld saam met jou, verlos is nie.

10. Ons sal dit deur die dag onthou, en die rol aanvaar wat aan ons toegeken is as deel van God se verlossingsplan, en nie as ons eie nie. 2Versoeking val weg as ons elkeen wat ons ontmoet, toelaat om ons te verlos, en weier om sy lig agter griewe weg te steek. 3Laat elkeen wat jy ontmoet, en diegene waaraan jy dink of uit die verlede onthou, toe om die rol van verlosser gegee te word, sodat jy dit met hom kan deel. 4Vir julle beide, en ook al diegene wat nie sig het nie, bid ons:

5Laat wonders alle griewe vervang.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 78: Let miracles replace all grievances. (ACIM, W-78)