Etiket: betekenislose wêreld

Les 13 – ’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees.

1. Vandag se idee is in werklikheid net ’n ander vorm van die vorige een, behalwe dat dit meer spesifiek is oor die emosie wat opgewek word. 2’n Betekenislose wêreld is eintlik onmoontlik. 3Daar bestaan niks sonder betekenis nie. 4Dit beteken egter nie dat jy nie sal dink dat jy iets waarneem wat nie betekenis het nie. 5Jy sal, inteendeel, hoogswaarskynlik dink dat jy dit wel waarneem.

2. Die herkenning van betekenisloosheid ontlok intense angs in alle geskeide mense. 2Dit verteenwoordig ’n situasie waar God en die ego mekaar “uitdaag” oor wie se betekenis in die oop spasie geskryf moet word wat die betekenisloosheid veroorsaak. 3Die ego storm rasend in om ten alle koste sy eie idees daar neer te plak, bang dat die leegte andersins gebruik sal word om sy eie onvermoë en onwerklikheid te bewys. 4En slegs in hierdie opsig is hy korrek.

3. Dit is daarom noodsaaklik dat jy leer om die betekenislose te herken en sonder vrees te aanvaar. 2As jy bang is, sal jy sekerlik eienskappe aan die wêreld toeken waaroor dit nie beskik nie en dit met beelde en voorstellings vul wat nie bestaan nie. 3Vir die ego is illusies veiligheidsmaatreëls, soos hulle heelwaarskynlik vir jou ook sal wees wat jouself met die ego gelykstel.

4 Vandag se oefeninge wat ongeveer drie of vier keer gedoen moet word vir nie langer as ’n minuut of wat op ’n keer nie, moet op ’n ietwat ander manier as die voriges toegepas word. 2Herhaal vandag se idee vir jouself met geslote oë. 3Maak dan jou oë oop, kyk stadig om jou heen terwyl jy sê:

              4Ek kyk na ’n betekenislose wêreld.

5Herhaal hierdie stelling vir jouself soos jy rondkyk. 6Maak dan jou oë toe en sluit af met:

              7’n Betekenislose wêreld veroorsaak vrees, omdat ek dink dat ek met God             meeding .

5. Jy mag dit moeilik vind om nie weerstand van een of ander aard op hierdie laaste uitspraak te ervaar nie. 2Ongeag watter vorm hierdie weerstand ook al mag aanneem, moet jy jouself daaraan herinner dat jy in werklikheid vir so ’n gedagte bang is vanweë die “wraak” van die “vyand.” 3Daar word nie van jou verwag om die uitspraak op hierdie stadium te glo nie, en jy sal dit heelwaarskynlik as absurd van die hand wys. 4Let egter versigtig op enige tekens van verbloemde of onverbloemde vrese wat dit mag opwek.

6. Dit is ons eerste poging tot die uitspreek van ’n eksplisiete oorsaak-en-gevolgverhouding, en wel van ’n soort wat jy nog uiters moeilik vind om te herken. 2Moenie stilstaan by die slotuitspraak nie, en probeer om nie eers daaraan te dink nie, behalwe tydens die oefenperiodes. 3Dit sal op hierdie stadium voldoende wees.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 13: A meaningless world engenders fear. (ACIM, W-13)

Les 12 – Ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.

1. Die belangrikheid van hierdie idee lê in die feit dat dit ’n korreksie bevat van ’n belangrike verdraaiing in jou persepsie. 2Jy dink dat dit ’n vreesaanjaende wêreld is wat jou ontstel, of ’n treurige wêreld, of ’n gewelddadige wêreld, of ’n kranksinnige wêreld. 3Jy het al hierdie eienskappe daaraan toegeken. 4Die wêreld is op sigself egter sonder betekenis.

2. Hierdie oefeninge word met oop oë gedoen. 2Kyk om jou heen, hierdie keer taamlik stadig. 3Probeer ’n tempo vind wat jou blik in ’n rustige en reëlmatige ritme van een ding na ’n ander kan laat gly. 4Moenie dat die tydsduur van die verskuiwing merkbaar langer of korter word nie, maar probeer liewer om deurlopend ’n afgemete gelykmatige tempo te handhaaf. 5Wat jy sien, maak nie saak nie. 6Dit leer jy jouself wanneer jy aan alles waarop jou blik ook al mag rus ewe veel aandag en ewe veel tyd gee. 7Dit is ’n eerste tree om te leer om aan alles gelyke waarde toe te ken.

3. Sê vir jouself, soos jy om jou rondkyk:

            2Ek dink ek sien ’n angswekkende wêreld, ’n gevaarlike wêreld, ’n vyandige wêreld,             ’n treurige wêreld, ’n bose wêreld, ’n mal wêreld,

ensovoorts, deur enige beskrywende terme te gebruik wat by jou mag opkom. 3As daar terme by jou opkom wat eerder positief as negatief lyk, sluit hulle in. 4Jy sou byvoorbeeld kon dink aan “’n goeie wêreld,” of “’n bevredigende wêreld.” 5As sulke terme by jou opkom, gebruik hulle saam met die res. 6Jy mag miskien nog nie begryp waarom hierdie “aangename” byvoeglike naamwoorde in hierdie oefeninge tuishoort nie, maar onthou dat ’n “goeie wêreld” ’n “slegte” een impliseer, en ’n “bevredigende wêreld” ’n “onbevredigende” een. 7Alle terme wat in jou geestesdenke opkom, is geskik as onderwerp vir vandag se oefeninge. 8Hulle oënskynlike kwaliteit maak nie saak nie.

4. Maak seker dat jy nie die tydsduur varieer wanneer jy vandag se idee toepas op wat jy dink aangenaam en wat jy dink onaangenaam is nie. 2Vir die doel van hierdie oefeninge is daar geen verskille tussen hulle nie. 3Voeg aan die einde van die oefenperiode by:

              4Maar ek voel ontsteld omdat ek ’n betekenislose wêreld sien.

5. Wat betekenisloos is, is nie goed of sleg nie. 2Waarom sou ’n betekenislose wêreld jou dan ontstel? 3As jy die wêreld as betekenisloos sou kon aanvaar en toelaat dat die waarheid vir jou daarop geskrywe word, sou dit jou onbeskryflik gelukkig maak. 4Maar juis omdat dit betekenisloos is, voel jy genoodsaak om daarop te skryf wat jy wil hê dit moet wees. 5En dít is wat jy daarin sien. 6En dít is wat in waarheid geen betekenis het nie. 7Onder jou woorde staan die Woord van God geskrywe. 8Die waarheid ontstel jou nou, maar wanneer jou woorde uitgevee is, sal jy Syne sien. 9Dit is die uiteindelike doel van hierdie oefeninge.

6. Dit is genoeg om die idee vandag drie of vier keer te oefen. 2Die oefenperiodes moet ook nie langer as ’n minuut duur nie. 3Selfs dit mag jy te lank vind. 4Staak die oefeninge sodra jy ’n gevoel van spanning ervaar.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 12: I am upset because I see a meaningless world. (ACIM, W-12)

All quotes are from A Course in Miracles, Third Edition.
Copyright © 2007 by the Foundation for Inner Peace, copyright holder and publisher.
448 Ignacio Blvd., #306, Novato, CA 94949, acim.org, used with permission.

© 2026 Hemelbewus

Patternstorm Designs