1. Vandag se idee begin om die voorwaardes te beskryf wat geld vir die ander manier van sien. 2Vrede van die geestesdenke is duidelik ’n innerlike saak 3Dit moet met jou eie gedagtes begin en dan na buite toe uitbrei. 4Juis vanuit die vrede van jou geestesdenke vloei ’n vreedsame persepsie van die wêreld voort.

2. Drie langer oefenperiodes word vir vandag se oefeninge vereis. 2Een in die oggend en een in die aand word aanbeveel, met ’n bykomende een enige tyd tussenin wanneer jy ten beste gereed voel daarvoor. 3Alle toepassings moet met geslote oë gedoen word. 4Dit is jou innerlike wêreld waarop vandag se idee toegepas moet word.

3. Ongeveer vyf minute se ondersoek van jou geestesdenke is nodig vir elkeen van vandag se langer oefenperiodes. 2Ondersoek jou geestesdenke vir vreesgedagtes, angswekkende situasies, “aanstootlike” persoonlikhede of gebeure, of enigiets anders waaroor jy liefdelose gedagtes koester. 3Neem hulle almal ongedwonge en terloops waar, herhaal vandag se idee stadig terwyl jy hulle in jou geestesdenke sien opkom en laat elkeen dan gaan, om deur die volgende een vervang te word.

4. As jy dit moeilik begin vind om aan spesifieke onderwerpe te dink, moet jy voortgaan om die idee rustig vir jouself te herhaal, sonder om dit op iets in die besonder toe te pas. 2Maak egter seker om nie iets opsetlik uit te sluit nie.

5. Die korter toepassings moet veelvuldig wees, en moet telkens gedoen word wanneer jy voel dat die vrede van jou geestesdenke enigsins bedreig word. 2Die bedoeling is om jou deur die hele dag teen versoekings te beskerm. 3As ’n spesifieke soort versoeking in jou bewussyn opkom, moet die oefening hierdie vorm aanneem:

              4Ek sou vrede in hierdie situasies kon sien, in plaas van wat ek nou daarin             sien.

6. As dié dinge wat inbreuk maak op jou innerlike vrede ’n algemene vorm van nare emosies aanneem soos depressie, angs of bekommernis, moet die idee in sy oorspronklik vorm gebruik word. 2As jy vind dat jy meer as een toepassing van vandag se idee benodig om te help om jou geestesdenke in enige spesifieke opsig te help verander, probeer om ’n hele paar minute te neem en te bestee aan die herhaling van die idee totdat jy ’n gevoel van verligting ervaar. 3Dit sal ook help as jy spesifiek vir jouself sê:

            4Ek kan my gevoelens van depressie, angs of bekommernis (of my gedagtes oor             hierdie situasie, persoonlikheid of gebeurtenis) vervang met vrede.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 34: I could see peace instead of this. (ACIM, W-34)