Etiket: Aanvaarding

Les 93 – Lig en vreugde en vrede woon in my.

1. Jy dink dat jy die tuiste van boosheid, duisternis en sonde is. 2Jy dink dat, as iemand die waarheid oor jou sou kon sien, hy afgestoot sou voel en van jou sou terugdeins, soos van ’n giftige slang. 3Jy dink dat, as die waarheid oor jou aan jou onthul sou wees, jy met soveel afgryse vervul sou word dat jy halsoorkop die hand aan jou eie lewe sou slaan, omdat om voort te lewe nadat jy dit gesien het, onmoontlik sou wees.

2. Hierdie oortuigings is so stewig vasgelê dat dit moeilik is om jou te help insien dat hulle op niks gebaseer is nie. 2Dat jy foute gemaak het, is duidelik. 3Dat jy verlossing op eienaardige maniere gesoek het, en dat jy mislei en misleidend was, bang vir dwase fantasieë en wilde drome, en dat jy neergebuig het voor afgode wat uit stof gemaak was – dit is alles waar, maar slegs op grond van wat jy nou glo.

3. Vandag gaan ons dit bevraagteken, nie vanuit die gesigspunt van wat jy dink nie, maar vanuit ’n heel ander verwysingspunt waarin sulke ydele gedagtes betekenisloos is. 2Hierdie gedagtes is nie ooreenkomstig God se Wil nie. 3Hy deel nie hierdie eienaardige oortuigings met jou nie. 4Dit is voldoende bewys dat hulle verkeerd is, maar jy sien nie in dat dit so is nie.

4. Waarom sou jy nie oorstelp van vreugde wees om verseker te word dat al die kwaad, wat jy dink jy gedoen het, nooit gedoen was nie, dat al jou sondes niks is nie, dat jy so suiwer en heilig is soos wat jy geskep was, en dat daar lig en vreugde en vrede in jou bly. 2Jou beeld van jouself kan nie weerstand bied teen die Wil van God nie. 3Jy dink dat dit die dood is, maar dit is lewe. 4Jy dink dat jy vernietig word, maar jy word gered.

5. Die self wat jy gemaak het, is nie die Seun van God nie. 2Daarom bestaan hierdie self hoegenaamd nie. 3En alles wat hy blyk te doen en dink, beteken niks nie. 4Hy is nóg sleg nóg goed. 5Hy is onwerklik, en niks meer nie. 6Hy voer nie ’n stryd met die Seun van God nie. 7Hy maak hom nie seer, of bedreig sy vrede nie. 8Hy het nie die skepping verander nie, nóg ewige sondeloosheid verander na sonde, en liefde na haat. 9Oor watter mag kan hierdie self wat jy gemaak het, beskik, as hy die Wil van God weerspreek?

6. Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 2Dit moet keer op keer herhaal word, totdat dit aanvaar word. 3Dit is waar. 4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 5Wat God as ewig geskep het, kan deur niks aangeraak of verander word nie. 6Die self wat jy gemaak het, boos en vol sonde, is betekenisloos. 7Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg, en lig en vreugde en vrede woon in jou.

7. Verlossing vereis die aanvaarding van slegs één gedagte: jy is soos God jou geskep het, nie wat jy van jouself gemaak het nie. 2Watter kwaad jy ook al mag dink jy gedoen het, jy is soos God jou geskep het. 3Watter foute jy ook al gemaak het, die waarheid oor jou bly onveranderd. 4Skepping is ewig en onveranderlik. 5Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg. 6Jy is en sal altyd presies bly soos jy geskep was. 7Lig en vreugde en vrede bly in jou, omdat God hulle daar geplaas het.

8. Begin vandag die langer oefenperiodes, waarby jy meer baat sal vind as dit die eerste vyf minute van elke uur gedoen word, deur die waarheid oor jou skepping te verklaar:

2Lig en vreugde en vrede woon in my.

3My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

4Sit dan jou dwase selfbeelde opsy, en bestee die res van die oefenperiode deur te probeer ervaar wat God jou gegee het, in plaas van wat jy vir jouself toegeëien het.

9. Jy is óf wat God geskep het óf wat jy self gemaak het. 2Die een Self is waar, die ander een is nie daar nie. 3Probeer om die eenheid van jou één Self te ervaar. 4Probeer om Sy heiligheid te waardeer én die liefde waaruit Hy geskep is. 5Moenie afbreuk doen aan die Self wat God as jy geskep het, deur Sy majesteit te verberg agter nietige afgode van kwaad en sondigheid wat jy gemaak het om in Sy plek te stel nie. 6Laat Hy tot Sy reg kom. 7Hier is jy; Dit is Jy. 8En lig en vreugde en vrede bly in jou omdat dit so is.

10. Jy mag dalk nie gewillig wees of selfs in staat wees om die eerste vyf minute van elke uur vir hierdie oefeninge te gebruik nie. 2Probeer dit egter net wanneer jy kan. 3Onthou ten minste om hierdie gedagtes elke uur te herhaal:

4Lig en vreugde en vrede woon in my.

5My sondeloosheid word deur God gewaarborg.

6Probeer dan om ten minste vir ’n minuut of langer jou oë te sluit en te besef dat dit ’n verklaring is van die waarheid oor jou.

11. As daar ’n situasie opduik wat jou blyk te ontstel, verplaas die illusie van vrees dadelik deur hierdie gedagtes weer te herhaal. 2As jy in die versoeking gelei sou word om kwaad te word vir iemand, sê saggies vir hom:

3Lig en vreugde en vrede woon in jou.

4Jou sondeloosheid word deur God gewaarborg.

5Jy kan vandag baie vir die wêreld se verlossing doen. 6Jy kan vandag baie doen om jou nader te bring aan die verlossingsrol wat God aan jou toegeken het. 7En jy kan vandag baie doen om die oortuiging in jou geestesdenke te vestig dat die idee van die dag inderdaad waar is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 93: Light and joy and peace abide in me. (ACIM, W-93)

Les 81 – Hersiening (61-62)

Ons idees vir hersiening is vandag:

1.             (61) Ek is die lig van die wêreld.

2Hoe heilig is ek aan wie die funksie gegee is om die wêreld te verlig! 3Laat ek stil wees in die aangesig van my heiligheid. 4Laat my konflikte in die kalm lig daarvan verdwyn. 5Laat ek in die vrede daarvan onthou Wie ek is.

2.              ’n Paar konkrete toepassingsvorme van die idee wanneer spesiale moeilikhede blyk op te duik, kan wees:

2Laat ek nie die lig van die wêreld in my verberg nie.

3Laat die lig van die wêreld deur hierdie verskyningsvorm skyn.

4Hierdie skaduwee sal voor die aangesig van die lig verdwyn.

3.             (62) Vergifnis is my funksie as die lig van die wêreld.

2Dit is deur my funksie te aanvaar dat ek die lig in my sal sien. 3En in hierdie lig sal ek my funksie duidelik en volkome ondubbelsinnig sien en begryp. 4My aanvaarding is nie afhanklik daarvan of ek insien wat my funksie is nie, want ek begryp nog nie vergifnis nie. 5Nogtans sal ek vertrou dat ek dit in die lig sal sien soos dit is.

4.               Spesifieke vorms om die idee te gebruik, mag insluit:

2Laat dit my help om te leer wat vergifnis beteken.

3Laat ek nie my funksie skei van my wil nie.

4Ek sal dit nie vir ’n vreemde doel gebruik nie.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 81: Review (61-62). (ACIM, W-81)

Les 80 – Laat my sien dat my probleme opgelos is.

1. As jy gewillig is om jou probleme te sien, sal jy sien dat jy geen probleme het nie. 2Jou een kernprobleem is opgelos, en jy het geen ander nie. 3Daarom moet jy vrede hê. 4Verlossing hang dus daarvan af om hierdie één probleem te sien, en te begryp dat dit opgelos is. 5Één probleem, één oplossing. 6Verlossing is volbring. 7Vryheid van konflik is jou gegee. 8Aanvaar dié feit, en jy is gereed om jou regmatige plek in God se verlossingsplan in te neem.

2. Jou enigste probleem is opgelos! 2Herhaal dit vandag ’n paar keer vir jouself, met dankbaarheid en oortuiging. 3Jy het jou enigste probleem gesien, en die pad vir die Heilige Gees oopgemaak om jou God se antwoord te gee. 4Jy het misleiding opsy gesit, en die lig van die waarheid gesien. 5Jy het verlossing vir jouself aanvaar deur die probleem by die antwoord te bring. 6En jy kan die oplossing herken, want die probleem is geïdentifiseer.

3. Jy is vandag op vrede geregtig. 2’n Probleem wat opgelos is, kan jou nie kwel nie. 3Maak net seker dat jy nie vergeet dat alle probleme dieselfde is nie. 4Hulle vele vorms sal jou nie mislei as jy dít onthou nie. 5Één probleem, één oplossing. 6Aanvaar die vrede wat hierdie eenvoudige stelling bring.

4. In ons langer oefenperiodes sal ons vandag op die vrede aanspraak maak, dié vrede wat ook ons vrede moet wees as die probleem en die antwoord bymekaar gebring word. 2Die probleem moet weg wees, want God se antwoord kan nie faal nie. 3As jy die een gesien het, het jy ook die ander een gesien. 4Die oplossing is inherent aan die probleem. 5Jy word geantwoord, en het die antwoord aanvaar. 6Jy is verlos.

5. Laat die vrede wat jou aanvaarding meebring nou aan jou gegee word. 2Sluit jou oë, en ontvang jou beloning. 3Sien dat jou probleme opgelos is. 4Sien dat jy sonder konflik is: vry en in vrede. 5Onthou bowenal dat jy één probleem het, en dat die probleem één oplossing het. 7Juis hierin is die eenvoud van die verlossing geleë. 7Juis hierdeur is dit gewaarborg om te werk.

6. Verseker jouself vandag dikwels dat jou probleme opgelos is. 2Herhaal die idee met volle oortuiging, so dikwels as moontlik. 3En maak veral seker om vandag se idee toe te pas op enige spesifieke probleem wat mag opduik. 4Sê vinnig:

5Laat my sien dat hierdie probleem opgelos is.

7. Laat ons vasbeslote wees om nie vandag griewe op te gaar nie. 2Laat ons vasbeslote wees om vry te wees van probleme wat nie bestaan nie. 3Die middel behels eenvoudige eerlikheid. 4Moenie jouself om die bos lei oor wat die probleem is nie, en jy sal sekerlik sien dat dit opgelos is.



✨ Geïnspireer deur die kernboodskap van die Kursus:

“Niks wat werklik is kan bedreig word nie. Niks wat onwerklik is bestaan nie. Hierin lê die vrede van God.”


Hierdie les kom uit (A Course in Miracles). Hemelbewus bied dit aan in Afrikaans as deel van ‘n pad van innerlike genesing en vergewing. Die vertaling is met groot sorg en toewyding oor verskeie jare deur Henri Theron gedoen, en bring die diep geestelike leringe van die Kursus na Afrikaanssprekende lesers.

📚 Lees meer oor die Kursus: www.acim.org

Lesson 80: Let me recognize my problems have been solved. (ACIM, W-80)

© 2026 Hemelbewus

Theme by Anders Noren — Up ↑